Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Digter is in die Kaapse Vlakte begrawe

Met die dood van Zavey Goliath verloor die Kaapse Vlakte en ’n breër Afrikaanssprekende gemeenskap (nogmaals) ’n digter wat sterf sonder dat ’n leserspubliek in die volle wydheid van sy kennis en digkuns kon deel, skryf Willem Fransman jr.

Zavey Goliath, digter van die Kaapse Vlakte.

hulle het kô vat ôse dreams en ôse

hopes moet ôse future wat ôs vi ôs

kinnes gedetermin het

hulle het gevat ôse kerk moet ôse religion

en ôse God wat ôs vi ôse

kinnes moes aanpass

toe stuur die bastards die bulldozers in

en dié kô trap ôse hyse moet ôse

dreams en ôse religion en ôse future

in sy blêrrie moer

vanaf distrik six tot innie boe-kaap

sien nou staan ôs en long ek en djy pellie na

die New Years parties en die gesingery

oppie Seven Steps en Woodstock en

Wynberg se stasies

nai dai dae is verby

becôs why hulle het soema die kitaar oek

gevat

daa’by is alles anyway ve’by

hulle het mos kô vat ôse Broadway en

maak dié somma hulle se highway

en ek en djy kyk nou vi jare al, tussen die strate, vi ’n way om ’n plek te kry . . . om in te bly

(“hulle het ko vat” deur Zavey Goliath)

Op Saterdag 22 Desember 2018 het ons ’n digter in die Kaapse Vlakte begrawe. ’n Digter wat homself met gemak in Kaaps sowel as in Standaard Afrikaans kon uitdruk. Maar Zavey Goliath was nie juis iemand wat homself op die voorgrond sou stoot nie. Dit was net nie deel van sy karakter nie.

Gee hom egter ’n verhoog, dan het die “showman” in hom oorgeneem. Hy was dan nie iemand wat oordonderend was nie, maar eerder rustig, besadig amper. En dan het hy daardie gehoor totaal bekoor.

Sy magdom kennis het van hom ’n lewende biblioteek gemaak.

Die dag as ’n ou mens sterf, brand ’n biblioteek af, lui ’n ou Afrika-gesegde. Toe Zavey Goliath op Maandagaand 10 Desember 2018 in die Tygerberg-hospitaal sy stryd teen kanker verloor het, was hy as 44-jarige allesbehalwe ’n “ou man”. Maar sy magdom kennis het van hom ’n lewende biblioteek gemaak.

Zavey kon met gemak oor feitlik elke onderwerp onder die son gesels. Hy was wydbelese en goedgemanierd.

Ons ontmoeting was toevallig. Ek was op pad na ’n skrywersvergadering by Braam de Vries se huis in Tuine, Kaapstad en hy was op pad na I & J waar hy gewerk het.

Hy het my, sonder om te skroom, gevra om na van sy gedigte te kyk. En so het ’n vriendskap begin wat nou deur sy dood tot ’n einde gekom het.

Digters en skrywers in klaskamers

Sedert 1998 was hy ’n gereelde gesig by bedrywighede van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV). Hy het aan ons skrywerswerkwinkels en ander skrywersoptredes, soos poësie-voorlesings in biblioteke, deelgeneem.

Zavey het daarna die ASV-bestuur gehelp met die werwing van leerders vir hul skrywerslypskole wat in samewerking met die Stigting vir Afrikaans aangebied is. Veral sy werwings- asook organiseringsvermoë was ’n groot bate vir die uitvoerende bestuur van die ASV.

Zavey het in ook 1999 by my teatertoneelgeselskap, KreAkon (Kreatiewe Kuns en Onderrig) betrokke geraak. Eendag, in ’n bespreking, het hy met die gedagte gekom om met die projek, “Digter/skrywer in die klaskamer” by plaaslike hoërskole te begin. Hy wou dit doen sodat jong mense in die klaskamer kan sien dat digters lewende mense is . . . en onder hulle woon!

Met die aanvang van Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees se Nag van Passie was hy, saam met die ASV, van die eerste digters wat opgetree het.

Hy moet eintlik as ’n pionier van die Woorde Open Wêrelde-projek (WOW) van die US gesien word. Met die aanvang van die eerste Woordfees, het Karin Daniels vir prof. Dorothea van Zyl van ons projek vertel.

Op uitnodiging van die Woordfees het ons by skole in ons omgewing, asook in Stellenbosch, opgetree. Ek, hy en wyle Vernie Plaatjies het skole besoek.

Kanker en ander talente

Zavey het die tegniese en beligtingsaspekte van ons opvoering van die opdragproduksie Leipoldt by die Sederbergfees te Clanwilliam (2003) asook by die KKNK (2004) behartig. In 2005 betree hy die verhoog as akteur by die KKNK in die epogmakende biografiese Adam Small-produksie, Goree (The Orange Earth).

In 2006 speel hy teenoor my in Paljas van Dirk Ligter. Dit was ook ’n opdragwerk van die Sederbergfees-direksie en het gehandel oor die lewe van die legendariese skaapsteler van die Hantam en Boesmanland.

Willem Fransman jr. en Zavey Goliath in die produksie Paljas van Dirk Ligter wat by die Sederbergfees opgevoer is.

In 2007, tydens die Media24 Hoërskoletoneelfees te Clanwilliam, skryf hy die teks én behartig die regie vir die Clanwilliam Senior Sekondêre skool se produksie, Tik. Hulle het die beoordelaarsprys vir die beste tegnies versorgde produksie gekry.

Zavey het in latere jare ook sy hand aan die skryf van filmtekste gewaag; nog ’n bewys dat daar aan sy kreatiwiteit geen perke was nie.

Hy was van 2005 tot 2008 uitvoerende bestuurslid van die ASV. In dié tyd was hy ook betrokke by die optekening van orale vertellings deur op storievertel-toere na Wupperthal en Clanwilliam te gaan om vertellers te identifiseer én onderhoude te reël.

Zavey het dalk nie die hoogtes bereik wat hy moes nie.

Kanker is in 2015 by Zavey gediagnoseer en ingrypende chirurgie het gevolg. Sy maag is verwyder en met ’n kunsmatige een vervang.

Alhoewel bestraling voorgestel is, was hy nooit werklik sterk genoeg daarvoor nie. Daar was selfs ’n tyd toe dit gelyk het asof die kanker in remissie was. En toe, eensklaps, was die kanker terug en kon hy homself net met moeite uitdruk. Sy toestand het toenemend begin versleg, maar hy het moedig teruggeveg.

In daardie tyd het ’n ander kreatiewe sy van hom na vore gekom: Hy het begin om ornamente met afvalmateriaal te maak en hy het begin skets, pragtige potloodsketse of oliepastelwerk.

Die sterk strome van die lewe

Sowat ’n jaar gelede het hy my ’n roman gegee en gevra om dit redaksioneel te versorg. Ons het nog nie eens behoorlik kans gekry om deur dit te werk nie.

Ná sy dood het ek uit nuuskierigheid na die einde van die verhaal gaan kyk.

Joan Hambidge, die digter/akademikus van die Universiteit van Kaapstad, het op ’n keer gesê: “Wanneer ’n digter sterf, praat sy/haar gedigte anders met ons en dit is dan, dikwels vir die eerste keer, wat ’n mens die digter na waarde kan skat.”

Kyk wat skryf hy in sy ongepubliseerde roman: “ . . . daar (sal) ’n dag aanbreek, dan kom haal die groot branders jou. En dan moet jy swem teen die sterk strome van die lewe.

“My lewe was vir my nooit ’n droom of enige verbeelding of ’n fantasie waarin ek probeer het om mense te laat verstaan nie; maar ’n werklikheid. Alhoewel ek nooit ’n sterk vis gekry het om my te beskerm teen die gevare nie het ek self die groot sterk vis geword. In my eie bestaan aan die einde, of sal ek sê begin, wil ek dan liewer ander weerlose vissies in die proses help en beskerm.”

Willem Fransman jr.

Zavey het dalk nie die hoogtes bereik wat hy moes nie.

Geleenthede het te laat in sy lewe gekom. Hy moes sy studies in letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland weens kanker staak.

Met Zavey se heengaan verloor die Kaapse Vlakte en ’n breër Afrikaanssprekende gemeenskap (nogmaals) ’n digter wat sterf sonder dat ’n leserspubliek in die volle wydheid van sy kennis en digkuns kon deel.

Waar sou die probleem lê?

Cecile Cilliers, een van ons “boekesusters”, had dalk die antwoord op ’n keer mooi uitgestippel: “Miskien is die aanmoediging van uitgewers se kant nie na wens nie. Of dalk gaan die jeugdige vuur oor. Of miskien eis die lewe en ’n ‘regte werk’ al die aandag op.”

Alhoewel Zavey Goliath nie veel geleenthede op publikasie gehad het nie, het ons wel uit die plesier uit sy digkuns geput.

Van ons driemanskap, wat die stigters van die Digter/ skrywer in die klaskamer-projek was, is nou nog net ek oor.

Zav, “we had joy, we had fun, we had our seasons in the sun”.

Dankie Zawa, “for the good times.”

Toe ek van sy dood hoor, het ek aan die woorde van Don McLean se liedjie, “Vincent”, gedink: “But I could have told you Vincent (Zavey). This world was never meant for one as beautiful as you.”

* Willem Fransman jr. is ’n skrywer en vryskutjoernalis.

Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Toneel  |  Afrikaans  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.