SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Held soos Frik

As kind het hy alles oor Frik du Preez gelees wat hy kon, skryf Willem Fransman jr. En slot wou hy speel – nes sy held.

Willem Fransman met sy geraamde foto van Frik du Preez. Foto: Verskaf

Die drukkersduiwel het my jare gelede ’n lelike streep getrek. Dit het my as ’t ware van my kinderlike onskuld beroof – in 1968 toe ek maar net in std. 2 was.

Frederik Christoffel Hendrik (Frik) du Preez, die Springbokslot, was my held. Op ’n dag in die openbare biblioteek in Tiervlei (vandag Ravensmead) lees ek dat groot Frik du Preez op 28 Januarie 1935 in Rustenburg gebore is. My dag was gemaak: Ek en my held deel ’n verjaarsdag!

Skaars twee jaar later, met die verskyning van Gerhard Viviers se Rugby agter doringdraad sien ek by die spelers se biografieë dat Frik eintlik op 28 November gebore is. Ek was verbyster. Nadat ek nog ander rugbyboeke deurgelees het, was my borrel behoorlik geprik en het ek my daarby berus.

Maar dit het nie my fassinasie met Frik laat taan nie. Op laerskool het ek slot gespeel hoewel ek die aftrap van ’n Eben Olivier gehad het en al kon ek ’n bal in volle vaart van die grond af opraap soos ’n Mannetjies Roux. En my plettervatte is deur my afrigter, wyle Phillip Abrahams, met dié van Joggie Jansen vergelyk.

Die slag as ons truie nommers gehad het, wou ek terstond nommer 4 gehad het.

Ondanks al dié deugde wou ek nét slot speel. Ek het gerank in die lynstane – nou nie so hoog soos Frik du Preez nie, maar tog! Dit was immers in die dae toe geen speler ’n ander in die lynstaan mog “opgetel” het nie. Jou vermoë om ’n bal in die lynstaan te wen, was ’n individuele poging. Eers as jy die bal in jou besit had, kon jou stutte jou ondersteun.

Die slag as ons truie nommers gehad het, wou ek terstond nommer 4 gehad het.

Elke koerantberiggie van Frik is ywerig versamel. Ons het immers met Die Burger, Dagbreek en Landstem en later jare Rapport grootgeword. Om van die talle tydskrifte soos Ster, Nou, Die Brandwag en Die Huisgenoot nie eens te praat nie. So daar was baie berigte om uit te knip en te versamel.

Dan was daar nog my eie boekeversameling met onder meer Leon Gouws se Frik du Preez: Rugbyreus, They Made Headlines, Twenty Great Springboks en Springbok Sage (al drie van Chris Greyvenstein).

Kort ná Frik se laaste wedstryd in 1971 het Die Huisgenoot ’n bylae gehad met die titel “Frik . . . ’n Held tree uit”.

Die voorblad van die bylae in ‘Die Huisgenoot’.

Op die voorblad poseer Frik in sy Springbok-oortrektrui, ’n wit hemp en das met ’n kitaar in die hand. Dis hoe sy spanmaats hom agter in die Springbok-bus, op pad na ’n wedstryd onthou. Dis ook hoe hulle hom, ná ’n moeilike toetswedstryd, in sy hoekie in die kleedkamer onthou. Kitaar in die hand, besig om een van sy lawwe liedjies te sing.

Vetkoek en biltong was sy gunsteling-eetgoed. Vetkoek het hy met plaasbotter en stroop – uit die blik waar die leeu op sy sy lê met die bye om sy kop – geëet. Vetkoek en biltong ook – “daar’s nou vir jou lekker!”

Ek kan met trots aankondig dat ek tot vandag toe nog daardie bylae in my besit het. Ek het ook ’n ikoniese foto van Frik in sy Springboktrui met ’n Super Springbok-bal in die hand. Dit is deur Frik onderteken en ’n mens kon dit deur die pos bestel. Dit pryk in my huis as aanduiding dat ek my heldeverering vir die ou Grote nog nooit verloor het nie.

’n ‘Outjie wat nogal van rugby hou’

Frik du Preez sit af op een van sy kenmerkende lopies in ’n toets teen Frankryk in 1967. Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images

Toe hy in 1960 die eerste keer ’n Springbok geword het, was daar diegene wat gevoel het dat Frik net “gelukkig” was om gekies te word.

Tog het Dok Danie Craven onwrikbaar in hom geglo. Vir Dok was Frik die verpersoonliking van Suid-Afrikaanse rugby, hoewel hy dikwels uit Bok-spanne weggelaat is. As hy om kommentaar gevra is, was sy antwoord altyd baie diplomaties: “Ag wat, dan vat ons dan maar net weer die baaisiekel by die handles en probeer weer!”

Hy het ook altyd ’n komiese sêding reggehad vir die kere wat hy weer gekies is: “Ag, die keurders was seker haastig op pad iewers heen, toe kies hulle my maar.”

Vir myself was ek nog altyd net Frik du Preez, ’n outjie wat nogal van rugby hou.

Frik het net voor die toer van 1969-’70 deur Brittanje weer in onguns by die keurders verval. Die toerspan is ná die Curriebeker-eindstryd tussen Noord-Transvaal en die WP aangekondig – ’n wedstryd wat nou nog bekend is as die een waarin Frik gedrop, geplace en gescore het.

Agterna het die skare in die rigting van die keurders gekyk en gedreunsing: “We want Frik, we want Frik!”

Ondank Frik se prestasies, het hy volgens sy vriende ’n platjie gebly en nooit gedink hy is beter as sy spanmaats nie.

Wyle Wally Newing, Frik se eertydse afrigter en ’n brigadier-generaal in die lugmag, het nadat hy Springbok geword het aan hom gesê hy moet belowe om nooit brandewyn en Coke te drink nie en hy moenie windgat raak nie.

Frik het ná daardie gesprek nooit weer brandewyn en Coke gedrink nie. Net bier, “want ’n man word mos dors – water sal nie help nie”.

’n Onlangse foto van Frik du Preez. Foto: Argief

In ’n artikel in Landbouweekblad van 1 November vanjaar vertel Frik: “Toe ek ’n laaitie was, was ek in my kop Bubbles Koch, Flip Geel, Hansie Brewis . . . Maar Wally se wysheid het my bygebly. Vir myself was ek nog altyd net Frik du Preez, ’n outjie wat nogal van rugby hou.”

Nadat Frik op 7 Augustus 1971 in sy laaste toets vir die Springbokke in Sydney teen Australië uitgedraf het, het The Sydney Morning Herald soos volg oor hom berig: “Frik du Preez was vir Suid-Afrikaanse rugby wat (Donald) Bradman vir Australiese krieket, Pelé vir Latyns-Amerikaanse sokker en Colin Meads vir Nieu-Seelandse rugby was.”

Binne die volgende paar weke word hierdie “laaitie wat nogal van rugby hou”, 84 jaar oud.

Dis dieselfde laaitie wat saam met ses Springbokspanne in die buiteland getoer het, die rekord vir die meeste getal toetse in ’n Boktrui (38) gehou het en wie se loopbaan oor 12 jaar gestrek het. (Hy sal jou daarop wys dat hy ook 13 keer uit Bokspanne weggelaat was!)

Dáárdie “laaitie” is steeds my held en die onlangse televisieprogram “Groen en goud” het ná al daardie jare my kinderemosies weer na die oppervlak gebring.

Lekker verjaar, ou Grote!

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Frik Du Preez  |  Danie Craven  |  Willem Fransman Jr.  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.