Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Kerk moet kan rus, omgee

Ek onthou die gesprek en die kerkdiens soos gister. Vroeër die middag het ek ’n omvattende gesprek gehad met my Belgiese kollega Roger Burggraeve, emeritusprofessor, oor etiese dilemmas en etiese verantwoordelikheid.

Laetus O.K. Lategan

’n Paar uittreksels uit ons gesprek bly my by. Jy doen nóú wat jy kan, maar laat nie na om te vra hoe die situasie in die toekoms verbeter kan word nie. Die barmhartigheid wat jy bewys, is ’n uitdrukking van jou persoonlike etiek. Verantwoordelikheid is so belangrik dat jy selfs verantwoordelikheid vir ’n ánder se verantwoordelikheid moet neem. Die bedoeling is dat jy ook ander móét help om hul verantwoordelikheid na te kom.

Met die groetslag word ek en my reisgenoot genooi na ’n kort kerkdiens vir buitelandse skoolhoofde waartydens die mis bedien sal word. Kom soos julle is, het die vriendelike uitnodiging gelui. Omdat ons plan was om teen skemeraand piekniek in ’n park te gaan hou, is die kos en drinkvoorraad in my rugsak gesit. So is ons na die mis.

Die professor van die middag was ook die priester van die diens. Oor sy kerklike toga was ’n mooi band gedrapeer. Uit Kenia, ter wille van julle, was sy gasvrye opmerking. In die kerkie word ons rustig tot almal aankom. Die boodskappie was oor die verantwoordelikheid vir brose mense. Die priester noem as voorbeeld die hartseer gesigte van die vrouebeelde by die Vrouemonument in Bloemfontein wat hy vantevore besoek het. Die hartseer gaan oor oorlog, verlies en vervreemding.

Ons akademiese gesprek was gewortel in die etiek van Levinas. ’n Etiek waar die gelaat van die “ander” raakgesien en beleef moet word. Teologies gesproke, kan ons sê dat die “eerste” ander God is. God in óns lewe, kan ons verder byvoeg.

Hieraan kan ons seker die begrip van ’n missionale teologie koppel: om sáám met God in die wêreld betrokke te wees. Dit skakel met Jesus se opdrag aan sy dissipels: Gaan dan . . . (Matteus 28:19).

Gedurende die mis was daar geen mistieke ervaring nie. Net die ervaring van rus. Die herinnering aan mense se weerloosheid maak jou ook bewus van jou eie weerloosheid. Die “verval- datum” op elkeen se lewe. En dit wat met jou gebeur ín die lewe. Dikwels onafwendbaar.

Dit is seker hoekom Jesus ons uitnooi om na Hom te kom: My juk is sag en my las is lig (Matteus 11: 28-30).

Met Hervormingsondag op pad, het ek weer aan Martin Luther se 95 stellings gedink.

Ons piekniek was ’n mengsel van proe en smaakgenot. Wat bybly, is die vreugde van die lewe ten spyte van jou eie “vervaldatum” en die werklikheid van ’n ongelyke wêreld. Die lewe is nie net teleurstelling nie.

Met Hervormingsondag op pad, het ek weer aan Martin Luther se 95 stellings gedink. Dit was die begin van die kerklike Reformasie. Luther se opmerk­ing oor geloof alleen, word gou vergeet. So ook sy eerste stelling dat die lewe ’n bekering moet wees. Verandering en vernuwing is nie eenmalig nie.

In die grendeltyd het ek weer oor my eie kerkbegrip gedink. Ons kerkbegrip moet weer besoek word. My indruk word al hoe meer dat die kerk ’n ruimte moet wees om in stil te word.

Binne hierdie stilte maak jy vrede met jou vervaldatum, treur jy oor die riet in die wind en die lamppit wat dof geword het, maar jy juig oor die riet wat nie geknak sal word of die lamppit wat nie uitgedoof sal word nie (Jesaja 42:3-4).

Wanneer jy spreekwoordelik die “verkeer van die lewe” aandurf, dan gaan maak jy erns met die geknakte riete en dowwe lamppitte. Daar waar jy is. Verby is die anderpad kyk. Jesus sê immers dat wanneer ons dit aan ander doen, het ons dit aan Hom gedoen (Matteus 25:40).

Is ons gereed vir hierdie hervorming?

Meer oor:  Godsdiens  |  Christenskap  |  Geloof  |  God  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.