Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Kinderlike kyk na die hemel en heelal

Toe haar twee tjokkers drie jaar gelede begin het om ’n paar eksistensiële vraagstukke oor ’n bakkie hawermout en aarbeijogurt te ontrafel, het Carina Stander haar skootrekenaar nadergetrek.

In die gees van die komende Hemelvaart, dink ek weer aan ’n herfsoggend drie jaar gelede.

Carina Stander, ’n selfportret in ink.

Op ons sonnige bo-stoep het ek saam met my seuns gebid vir ontbyt, maar ons het sommer oop oë dankie gesê vir als wat ons kon aanskou en onthou: Dankie vir ’n vakansiedag waarop ’n mens negeuur die oggend nog in snoesige pajamas en slaapkouse kan wees. Dankie vir ’n boskasie-tuin wat ’n speelplek vir katte, Knysnaloeries en kinders is.

Dankie vir dinosourusse en tjorre wat modderpaaie in die agtertuin maak. Dankie vir sterre en anemone in rotspoele, seesproei en sampioene wat dié tyd van die jaar uitswel in die klam kloof. Dankie vir vriende soos die woud. Dankie vir ’n blou kombuis met ’n vol groenterak en kleur wat die grysheid verdryf.

So tel ons dié oggend ons seëninge en kort ná die uiteindelike amen, vra Ilan (toe ’n raps oor die drie jaar oud) effens vies: “Hoekom moet ons bid? Hoekom is Jesus nie meer op die aarde nie?”

Aden (toe sewe jaar oud): “Dis vir Jesus baie maklik om op die aarde én in die hemel te wees. Hy was sy lewe lank nog op die aarde en in die héélal.”

En so beginne die twee tjokkers ’n paar eksistensiële vraagstukke te ontrafel oor ’n bakkie hawermout en aarbeijogurt. Ek kon sommer hoor hier kom ’n ding, daarom het ek my skootrekenaar nader gesleep en tjoepstil agter hulle gaan sit en tik.

Ilan: “Waar is die heelal?”

Aden: “Die heelal is alles saam, en God is nog groter as dit. God is oral, want God is groter as die heelal.”

Ilan: “En wat is nog groter as God?”

Aden: “Niks.”

Ilan: “ ’n Groot, groot, groot, groot, groot huis is groter as God?”

Aden: “Nee, God is baie groter as ’n groot, groot, groot, groot, groot huis.”

Ilan: “Die bome is groter as God?”

Aden: “God is regtig baie groter as die bome. Nee, nee, nee.”

As God nie bestaan het nie, sou niks bestaan het nie.

Ilan: “Tien godde (sic) is so groot soos ’n boom?”

Aden: “Nee, Ilan, daar is net een God.”

Ilan: “Issie. Baäl is ook ’n god. Hy’s ’n klipgod.”

Aden: “Baäl is net iets wat mense uitgedink het.”

Ilan: “ ’n Dinosourus is groter as God? Daai groot draak in How to Train Your Dragon is groter as God?”

Aden: “Daardie draak bestaan nie regtig nie, Ilan. En selfs al het hy bestaan, sou God nog groter gewees het as hy. God kan Homself ook klein maak as Hy wil, want Hy is heilig. Dit beteken Hy kan enigiets doen wat Hy wil. As God nie bestaan het nie, sou niks bestaan het nie.”

Ilan: “God is orals? Daarbo is orals?”

Aden: “Ja, Ilan, orals is daarbo en orals is in alles.”

Ilan, stomverwonderd: “My kop kan nie so groot ooprek soos God nie.”

* Stander is ’n visuele kunstenaar, reisjoernalis, die skrywer van twee digbundels, ’n roman en ’n kinderboek. Haar tweede roman, Die Bergengel, verskyn by Protea Boekhuis en word op 7 Mei 2017 bekendgestel in samehang met haar solokunsuitstalling in die Tina Skukan Galery in Pretoria. Sy woon in die Tsitsikamma.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.