Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
'n Lemoen val in Citrusdal

Die dankbaarheidslysies op Facebook dreig om haar gal te laat oorkook, skryf Erla-Mari Diedericks. Maar toe ontmoet sy ’n vriend uit haar verlede.

Erla-Mari Diedericks

Wat is die Afrikaans vir contentment?

Tevredenheid.

Vergenoegdheid.

Genoegsaamheid.

Welgeluksaligheid

Die Nederlanders praat van vreden. In Hebreeus is dit (foneties uitgespreek) sepoek.

Almal het ’n woord daarvoor, want almal soek daarna.

Deesdae het dit ’n modewoord geword. So saam met gratefulness en living in the moment. Oor laasgenoemde het ek al gal gebraak. Maar die dankbaarhheidslysies wat almal so maak op Facebook, gaan nog my gal laat oorkook.

Dalk is ek ’n ondankbare donderwolk tussen al die sonneblomme, maar komaan. As jy regtig so dankbaar is, moet jy dit op Facebook uitbasuin? Is dit nodig om dankbaar te wees vir elke blerrie liewe stupid dingetjie!

Dankbaar vir die son, die kat, die hond, die vlieg teen die muur en vir die koppie koffie en die melk en die suiker – al word dit ekstra belas.

Dankbaar, dankbaar, dankbaar . . . wel ek sal regtig dankbaar wees as mense nie dit met almal wou deel nie.

Dieselfde met contentment. Tevredenheid.

Daar is altyd iets wat ek wil hê, wil doen, wil gaan sien, wil beleef.

Deesdae is elke Jan, Rap en sy maat content. En deesdae voel ek dat ek genoeg van al hierdie genoegsaamheid gehad het en dat die vergenoegdheid nou ver genoeg gegaan het.

Want ek het nie vrede nie.

Die miere in my agterent wil nie ophou kriewel nie, die stemme in my kop sal nooit ophou fluister nie.

Daar is altyd iets wat ek wil hê, wil doen, wil gaan sien, wil beleef. Ek het vrede gemaak met myself, maar ek nie vrede gemaak met die feit dat ek nou met my handjies gevou moet sit en tevrede moet wees nie.

Toe ontmoet ek weer vir hom.

Hy – ’n vriend uit my verlede – het my een dag op Facebook gekontak en het net so weer in my lewe gekom met dieselfde kuiltjie-glimlag as 30 jaar gelede.

Meneer Perfek. Aantreklik. Professionele beroep. Sportief. Gesond. Pragtige kinders. Gelukkig geskei. Nog steeds woonagtig in my geboortedorp, duisende myle van waar ek was.

Hy het in die oomblik geleef (daar het ek my oë gerol). En natuurlik was hy genoegsaam. Vergenoeglik. Content. Wat ook al.

My lewe het glad nie uitgewerk soos ek gedink ek dit sou nie. Ek voel soos ’n mislukking.

Ons het mekaar begin foonteks en soos dit maar gaan as ’n mens buite in die maanlig in ’n jacuzzi sit (ek was alleen met vakansie op ’n gasteplaas in Citrusdal en was met foon en al in die borrelende water), het die tekste heen en weer vurig geraak.

Maar op ’n heel ander manier. Want ek was gatvol vir sy dankbaarheid en genoegsaamheid.

“Dis maklik vir jou om te sê jy is content, want jou lewe het perfek uitgewerk. Jy het ’n goeie beroep, maak geld, bly in ’n woonstel by die see (ter oordeel na al die see-foto’s wat hy vir my gestuur het) en nou kan jy die vrugte daarvan pluk!” het ek per teks uitgevaar.

Ek was nog nie klaar nie: “My lewe het glad nie uitgewerk soos ek gedink ek dit sou nie. Ek voel soos ’n mislukking, ek bly in ’n huurhuis in ’n vervelige woonbuurt, ek het 20 jaar laas oorsee gereis en ek het nie ’n man of ’n mooi huis nie, en ek het niks bereik wat ek gedink het ek sou nie.”

My klaagliedere het opgestyg na die berge en dale van Citrusdal.

Ek het ’n tirade terugverwag. Of dalk ’n preek oor hoe ek vrede kon vind.

Wat ek gekry het, was eerlikheid.

Ek sal nooit tevrede wees nie, want ek wil weer oorsee reis, ek wil nog boeke skryf, ek wil weer in ’n mooi huis bly, ek wil weer ’n groot romanse hê.

“Erla, ek het als verloor. My huwelik van 20 jaar omdat ek ’n ateïs geword het. Die huis waarop ek so trots was en so hard voor gewerk het, is verkoop. En ek bly nie in ’n woonstel met ’n see-uitsig nie. Ek bly in my ma-hulle se ou huis.”

Die jacuzzi het stil om my geborrel. Die maan het bleek en verleë agter ’n donker wolk verdwyn.

“My lewe het ook nie uitgedraai soos ek gedink het dit sou nie, maar ek het vrede. Ek is regtig, eerlikwaar content.”

Ek het vir hom ’n boodskap teruggestuur.

“Ek sal nooit tevrede wees nie, want ek wil weer oorsee reis, ek wil nog boeke skryf, ek wil weer in ’n mooi huis bly, ek wil weer ’n groot romanse hê, ek wil . . . ek wil . . . ”

Hoe voel jy oor jouself? het hy my gevra.

Lankal vrede gemaak met myself, het ek geantwoord.

Maar om vrede te hê, beteken nie ’n mens hou op met droom nie.

Dit is waar. Ek was meer gelukkig as nog ooit tevore in my lewe. Maar waarom dan nog al hierdie begeertes?

“Maar om vrede te hê, beteken nie ’n mens hou op met droom nie,” het hy geantwoord. “Dit beteken net jy het ’n wonderlike wegspringplek van waar jy jou drome kan laat waar word.”

Net daar, op ’n plaas in Citrusdal, het alles meteens vir my sin gemaak.

Iemand het gelag.

’n Hond het geblaf.

’n Lemoen het geval.

En vrede het oor my neergedaal.

* Erla-Mari Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Citrusdal  |  Dankbaarheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.