Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Oogwink lê tussen lewende en wyle

’n Oogwink lê tussen die oomblik waarin ’n mens, daardie brose borduursel van bloed en been, drome en draadwerk, iemand met ’n naam en ’n gesin, tot oorskot gereduseer word. Waar die lewende die wyle word.

Carla Lewis

Niemand weet regtig wat gebeur in die oomblik wanneer die tydelike in die ewige oorgaan nie.

Al wat ek weet, as iemand wat weekliks minstens 400 km tussen my huis en die werk ry, is dat dit heeltemal te gereeld op ons land se paaie gebeur.

Daar gaan min dae verby dat ek nie ’n motorongeluk teëkom nie. Party se impak is minimaal, ’n bufferbotsing wat miskien ’n ekstra halfuur by jou pendeltyd voeg.

Dan is daar die noodlottige ongelukke waar spoed, metaal en arrogansie kontak maak met vlees en bloed en daardie delikate kabel van menslikheid kortknip.

Die een oomblik is jy nog mens. Die volgende oomblik, oorskot. Oorskiet van Suid-Afrika se paaie.

As jy al verby ’n noodlottige ongeluk gery het, sou jy dalk al die silwer foeliekomberse gesien het wat noodwerkers oor die dooies, die oorskot-oorskiet, gooi. Blinksilwer, soos die tinfoelie waarin ons ons oorskietkos toedraai.

Want dit is die indruk wat ’n mens kry wanneer jy die Suid-Afrikaanse padsterftesyfers sien. Dat niemand op wetgewende vlak regtig omgee nie, dat Suid-Afrikaanse padgebruikers weggooibaar is.

Dis nie net die regering nie: Kyk hoe boelie ons mekaar op die paaie, kyk na die ongeërgdheid, die traak-my-nie-houding waarmee ons die padreëls oortree. Die verfrommelde motorwrak met sy oorskiet-oorskot-inhoud is maar net nog ’n stukkie kanonvoer van Suid-Afrika se paaie.

Hulle was almal mense, brose borduursels van bloed en been, drome en draadwerk, wat in ’n oogwink ’n oorskiet-statistiek van ons paaie geword het.

Die feestyd begin binnekort en saam met die flonkerende Kers-neonliggies en klatergoudversierings kom die flitsende blou en rooi ligte van ambulanse en noodvoertuie. Soos geskenkpapier skeur en ritsel op Kersoggend, ritsel die tinfoeliekomberse wanneer nooddienswerkers dit oor die slagoffers-oorskot-oorskiet-statistiek gooi.

Nuwejaar kom die skokstatistieke, van ma’s en pa’s, broers en susters wat nommers word. Almal is ontnugter, met afgryse gevul, bekommerd, totdat dit net weer oorgaan in apatie.

Die oorskot-oorskiet-statistiek bedek in ritselende klatersilwer word vergeet, toegerits in lyksakke. Ons hou aan jaag.

As jy jou voet dié feesseisoen ’n bietjie swaarder op die petrolpedaal wil laat rus, dink aan die vierjarige Given Steenkamp, wat vanjaar agt van sy familielede in ’n gru-ongeluk verloor het.

As jou geduld met daardie sukkelende trok op die enkelbaanhoofweg begin opraak en jy wil-wil ’n kans vat om op ’n sperstreep verby te streek, dink aan Zulithe en Altus Bantjes, wat Kersfees sonder hul ouers moet deurbring.

Wanneer jy volgende jaar na die skokstatistieke op die radio luister, onthou die name: Erika Bantjes, wat graag marathons gehardloop het, die veearts, dr. Chris Kingsley, wat lief was vir voëls. Frikkie Pieters en Jacques van Niekerk, twee kranige fietsryers wat in ’n tref-en-trap-ongeluk doodgery is.

Hulle was almal mense, brose borduursels van bloed en been, drome en draadwerk, wat in ’n oogwink ’n oorskiet-statistiek van ons paaie geword het.

  • Lewis is inhoudsredakteur van Saterdag-Beeld.
Meer oor:  Carla Lewis  |  Motorongeluk  |  Rubriek  |  Menings  |  Feestyd  |  Padsterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.