Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Ouer hou nóóit op huil oor ’n kind nie
Nolan Venter

Vandag slaan my gedagtes briek by Party, ’n vriendelike, mollige vrou wat in die jare toet by my oom en tante as huishulp gewerk het toe ek die laerskoolbanke nog warm gesit het.

Sy moes destyds in haar laat 20’s gewees het. En alhoewel haar naam vrolikheid oproep, was haar lewe dit allesbehalwe.

Vir Party het ek ontmoet toe ons destyds van ons geboortegrond afgesit en ons intrek in ’n sinkhokkie op my oom en tante se werf geneem het. Van dag een af het sy sommer baie diep in my kinderhartjie gekruip.

Wanneer sy gelag het, het haar oë saam gelag. Dan het haar kop bokant haar skouers geskud, nes daai hondjies wat destyds in die agterruit van hoeveel motors te sien was.

My oom en tante, sterk onder Hollandse invloed, het na hul werkers as “saarbande” verwys. Eers baie later sou ek uitvind dat dié woord eintlik ’n verbuiging van die Engelse woord “servants” was.

Party het die fynste krummelpap gemaak, en niemand kon ’n mielies-en-bonepot soos sy optower nie. Geurig en smaaklik. Net met sout, peper, Holsum-vet en die Jabula-soppoeier van destyds. Op sulke dae sou ek my kindermagie boep eet.

Maar Party se lewe het ’n hartverskeurende donker kant gehad. Sy het drie keer kinders in die lewe gebring.

Maar Party se lewe het ’n hartverskeurende donker kant gehad. Sy het drie keer kinders in die lewe gebring.

En drie keer het die gewetenlose hand van die dood die suigelinge wreed van haar moederskoot weggeruk. Nog voor hulle eens kon kruip of sy die eerste tandjie met haar wysvinger in hul mondjies kon voel deurbreek.

Dis sulke tye dat my hart vir Party gebloei het. Want dan sou die arme siel verwese en grafstil agter ’n deur op ’n biesiesmatjie sit met ’n swart kopdoek tot teen haar wenkbroue gebind, ’n kombers oor haar geboë skouers, met haar bene onder haar lyf ingevou.

In skrille kontras met die vrolike vrou wat sy andersins vir my was, was haar oë dan leeg en kil terwyl sy voor haar uitstaar. So asof sy vir antwoorde in die kleur- en gewiglose lug voor haar soek. Woorde kon ek in sulke tye nooit vind om haar mee te vertroos nie.

Nóóit het enige van haar familielede gekom om haar by te staan nie. Haar hartseerkruis het sy stoksielalleen gedra. Met die teraardebestelling was daar altyd net Party en ons familie by die kindergraffie.

Ek onthou vandag nog die woorde wat Ouma altyd aan Party gesê het wanneer ons van die hopie grond met die veldblommetjies daarop wegstap. “Los jou trane by die graf – moet dit nie saam met jou huis toe vat nie.”

Vir my het dit nooit sin gemaak nie. Tot Party se lot my ook jare later getref het. Eers toe het ek die onredelikheid van Ouma se versoek begryp. Want ’n ouer, veral ’n ma, hou nóóit op huil oor ’n kind nie.

Vra maar enige moeder wat soos Party langs daardie weg gewandel het.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Huil Oor Kind  |  Ouerskap  |  Ouer  |  Kind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.