Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Petroljoggie wat sing, verdien mos erkenning
Annelie Botes

Met die terugtog van ons onlangse besoek aan Bredasdorp stop ons by die vulstasie in Hartenbos vir brandstof.

Terwyl die gryse al die syfers en liters opskryf, sit en kyk ek hoe was die petroljoggie die voorruit skoon van insekoorblyfsels.

Hy doen dit met oorgawe terwyl hy ’n kerklied neurie. En net daar besluit ek om nooit in die dae wat vir my oorbly, by ’n vulstasie weg te ry sonder om die petroljoggie ’n fooitjie te gee nie. Alles in ag genome, dis ’n gratis diens.

En hy doen dit behoorlik en nie met ’n suur gesig nie. Hy sing.

Gratis dienste is skaars. Dit bestaan bykans nie. As ’n motorwag jou beduie hoe om in of uit ’n parkeerplek te kom, verwag hy ’n fooitjie.

Dieselfde met iemand wat by die lughawe help met jou bagasie. Of die assistent wat by die kwekery help om jou plante in die kattebak te laai.

Munisipale werkers soek Krismisbokse. Pizza-afleweraars verwag ’n stywe bedrag. Die mens wat jou winkeltrollie terugstoot winkelstoep toe, hang om jou rond en pers so te sê ’n fooitjie uit jou uit. Dit word gereken as suinig en ongemanierd om nie aan kelners ’n 10%-fooitjie te gee nie, al was die diens beteuterd.

Terselfdertyd is dit nie die norm om aan petroljoggies ’n toegiffie te gee nie. Tog, hulle was die voorruit gratis, pomp die bande gratis, gooi sonder vergoeding water en olie in. Normaalweg ken hulle die area en beduie met graagte waar is die plek of straat waarna jy soek. Selde dat hulle sleepvoet beweeg, of frons as jy ’n strokie vra.

Gewoonlik kom hulle draf-draf aan met die kleingeld en niks in hul houding pers jou af om kleingeld vir hulle te gee nie. En dan wens hulle jou omtrent altyd ’n goeie dag of reis toe.

As ék heeldag omring moes wees deur petroldampe, sou ek knaend kopseer gehad en suur voorgekom het.

Dit was vroegoggend en die suidewind het gesny terwyl ons brandstof ingooi daar in Hartenbos. Toe wonder ek watter tyd van die oggend die petroljoggie opgestaan het om betyds by die werk te wees.

Ek dink aan die winternagskofte wat hulle daar in die oopte en wind en reën by die pompe deurbring. Of die bloedige dae, met petroldampe wat walglik in hul neuse opslaan.

As ék heeldag omring moes wees deur petroldampe, sou ek knaend kopseer gehad en suur voorgekom het.

’n Wyle gelede woon ons ’n middagkonsert in die Veremarksaal by. Toe ons ná die konsert aansuiker motor toe, trap die motorwag omtrent ons hakskeenvelle af.

Indien iemand ons motor wou steel, was daar niks wat hy kon doen nie, want hy is aan geen sekerheidsdienste gekoppel nie. Maar hy soek sy fooitjie. Vir wátter dienste gelewer?

So gee die gryse ’n hand vol geld uit die rathefboomhokkie. Voor ons oë pik hy die silwer uit; gooi die bronsgeld met ’n minagtende boog dat dit oor die parkeerterrein spat. En loop sonder ’n dankie weg.

Dan gee ek met graagte eerder ’n nootfooitjie vir ’n energieke petroljoggie.

Meer oor:  Bredasdorp  |  Sing  |  Petroljoggie  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.