Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Roomysfiets vat jou terug na jou kinderdae
Johan van Wyk

Het jy roomys geëet om af te koel toe ’n hittegolf verdorde Suid-Afrika verlede week nog verder verdroog het?

Nie ’n roomys gekoop in ’n roomyswinkel nie, maar by ’n smous in ’n rooi oorpak op ’n driewielfiets met ’n klokkie?

Dat die verkoop van roomys uit ’n ysboks op ’n fiets met ’n klokkie – ’n tradisie sedert die ontstaan van hierdie lekkerte – steeds bedryf word, is amper te goed om waar te wees. Sommige instellings oorleef darem tog die aanslag van die tyd. Dit is nogal gerusstellend.

Weliswaar nie meer teen ’n tiekie of ’n trippens nie, soos die nederige geldstukkie (later twee en ’n half sent) ook bekend was.

Dít is wat ’n wafer, ’n reghoekige blokkie roomys tussen twee velletjies bros soetigheid, amper soos ’n koue toebroodjie, in my kinderdae gekos het.

Dit was nie net ’n gunsteling nie, maar soos ’n bakkie (tub) waarby jy ’n klein houtlepeltjie gekry het, ál keuse by ’n roomyssmous op sy fiets.

Deesdae is daar roomyse te kies en te keur en betaal jy vir een wat ’n klerk in die staatsdiens of ongeskoolde arbeiders ’n geslag of wat gelede per maand op die Spoorweë verdien het. Deesdae is dit ’n hongerloon.

Deesdae betaal jy vir een wat ’n klerk in die staatsdiens of ongeskoolde arbeiders ’n geslag of wat gelede per maand op die Spoorweë verdien het

Toe ek by die smous wou weet hoekom jy nie meer ’n wafer kry nie, het hy gesê, soos Margaret Thom (nie meer van Groot-Brak nie, maar nou van George) graag veelseggend omtrent die groot, onbeantwoorde vrae oor die lewe opmerk: “I don’t know”.

Wat ek wel weet, is dat om weer kind te wees soos ’n gordyn wat oopgeskuif word by my opgekom het toe ek opgewonde my hand in die ysboks op die driewielfiets gesteek het om ’n roomys uit te soek.

Ook die wysheid van die Amerikaanse rubriekskrywer, William Tammeus: “Jy sal nie werklik die menslike natuur verstaan tensy jy weet waarom ’n kind elke keer op die mallemeule vir sy ouers waai – en waarom sy ouers elke keer terugwaai nie”.

En, dink ek, waarom ’n kind sterre in sy of haar oë kry as hulle ’n roomysfiets se klokkie hoor, of droewiglik huil as die bol roomys op ’n horinkie in hul hand per ongeluk op die grond val en hulle moet toekyk hoe ’n hond dit voor hulle voete oplek.

Met wie het dít as kind nie gebeur nie? Ek huil steeds oor die kere wat myne op die grond geval het.

Nie dat roomys net vir kinders is nie. Jy kan oorkom soos die omie in Henriette Deist (binnekort die bruid aan die sy van my vriend Al van der Merwe van Citrusdal) se mooi storie van die omie wat op sy eerste besoek aan Kaapstad ook vir die eerste keer in sy lewe ’n roomys by ’n fietssmous gekoop het.

Toe die smous die yskas oopmaak en ’n koue wasem uit die diepte opstyg en hy, menende dat dit stoom is, die wafer wou afkoel, het hy, toe hy die eerste happie neem, gesê: “Nou het ek hom darem té koud geblaas!”

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Herinneringe  |  Kinderdae  |  Roomys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.