Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Slingervel en klippie kon vir Goliat neervel
Annelie Botes

Die meeste mense ken die storie van Dawid en Goliat soos opgeteken in 1 Samuel 17. Hoe Dawid met ’n slingervel en ’n spruitklippie die drie meter lange reus van die Filistyne teen die voorkop getref en neergevel het. En in vers 50 lees ons Dawid het nie eens ’n swaard by hom gehad nie.

In mediagesprekke vandeesweek het ek opnuut bewus geword van die moedelose magteloosheid van ons as voetvolk.

Ons staan soos dwergies sonder ’n swaard voor die drie meter lange reus genaamd Die Regering. Hulle besluit soos hulle wil, manipuleer soos hulle wil, dwing redeloos af wat soos hulle wil, steel wat hulle wil, lieg soos hulle wil.

Ek en jy en ’n honger, winterkoue townshipper kan ziekerbôl daaraan doen, want waar moet enigeen van ons die geld kry om hulle hooggeregshof toe te vat? Ons kan nie sê ons weier om verdere belastings te betaal nie, want beland jy in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se kloue, sit jy so goed soos op die skroeiwarm voortrappe van die hel. Ons hande is skynbaar afgekap.

Ek weet die hantering van die koronavirus is ’n braakland waar Die Regering geen ploegervaring het nie. My ma het altyd vertel hoe sy snags met die paraffienlantern aan die oorkant van die koringland moes staan, sodat my pa met die donkies en handploeg in die donker reguit vore kon ploeg. Bitter dae, tog langerlaas was my pa ’n kontantboer. Maar soos Die Regering tans ploeg, is dit onvermydelik dat hulle plaas onder die hamer gaan kom.

Nou sit hy hulle maar snags in ’n donker kamer op ’n kamerpotjie, en lees vir hulle spookstories uit sy tjekboek.

Dit herinner my aan die liegstorie van die man wat gekla het hy kry so swaar met geld. Sy kindertjies se magies is verstop en dit kramppyn, maar hy het g’n duit vir purgasie nie, en dit verrinneweer hom om hulle te sien ly.

Nou sit hy hulle maar snags in ’n donker kamer op ’n kamerpotjie, en lees vir hulle spookstories uit sy tjekboek.

Vermoedelik slaap niemand in Die Regering snags met hongerpyne onder stukke karton in stegies nie. Húlle het nie hulle werk verloor nie. Húlle skoolgaande kinders het sweerlik elke digitale leermiddel en word nie onderrig in ruitlose, toiletlose, waterlose skole nie.

Die magtige Goliatte van Die Regering staan met skilddraers voor hulle om hulle te beskerm. Gepak en gedas, dikgeëet aan bieffillet en béchamelsous; sigaret in die hand. Terwyl die onbeskermde Dawids net toegang tot ’n slingervel en spruitklippies het.

Ek dink Die Regering begin snags op hulle memory foam-matrasse vasdraai in hul bokhaarkomberse. Oor weelderige spookstories in tjekboeke. Die Goliatte het hul hand oorspeel.

Hulle het nooit gereken die voetvolk kan met slingervelle en spruitklippies ’n gevaarlike teenstander word nie. En dat die reus teen die voorkop getref kán word en neerslaan.

Abraham Lincoln het gesê: “If you want to test a man’s character give him power.” Dalk is dít een van die lesse wat die koronavirus vir ons land kom leer het.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Oorlewing  |  Korona  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.