Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Storie oor liefde en geluk op Geluksdam

Kom ek vertel jou ’n storie. Jy hou mos van stories? Dis ’n storie oor die liefde . . .”

Die man het sy Coke met die regterhand vasgehou en die etiket met sy linkerhand van die botteltjie geskeur. Hy het die repies papier op die tafel gestrooi.

Ek en Saai het by die eetplek ontmoet om oor landbousake te praat. Hy het toerusting verkoop. ’n Beesskaal of iets. Dit was ’n Donderdag en net een of twee ouens het aan hul dop gesuig. Die plek het na steak en gebraaide uie geruik.

Saai het net een keer na my gekyk. Ek het skielik begin belang stel en langs hom gaan sit. Hy het net een slukkie van die koeldrank geneem en na die druppels bly staar wat teen die kant van die botteltjie afgly.

Hy was die jong, roekelose erfgenaam van ’n groot skaapplaas in die Karoo. Die plaas se naam was Geluksdam. Hy was pas uit die kollege en die toekoms het blink soos ’n lugspieëling op ’n warm Karoodag voor hom gelê. ’n Droomplaas was syne, ’n nuwe bakkie en ’n houding van ’n jong lat wat alles weet van boer, mense, die lewe.

En elke aand het hy op die dorp gaan kuier. Die lewe het soos koue bier gesmaak.

“Niemand kon my iets vertel nie,” het Saai gesê. En elke aand het hy op die dorp gaan kuier. Die lewe het soos koue bier gesmaak. Koel, vars, lieflik. Ek kon my ’n pa en ma in die ou wit huis verbeel wat ná Boekevat na die horlosie kyk.

Die geluk was aan Saai se kant op Geluksdam. Dis asof daai bakkie die pad self huis toe gekry het. Soggens was hy douvoordag op. Gereed vir boer. Om dinge reg te maak, te hiet en te gebied. Sy pa se bekommerde blik af te lag.

Ná ’n jaar of twee op die plaas het nuwe bure langsaan ingetrek. Met ’n dogter wat ná Desember universiteit toe sou gaan. ’n Pragtige, slim, ernstige donkerkop.

Hy het gesweer hy sal dit los. As hulle verloof sou raak – die aand ná die dans.

Die jong boer met die weerbarstige kuif het gou gereeld of ongereeld die perd opgesaal en oorgery. Hy was dolverlief. Die stadsmeisies vir wie hy soms gaan kuier het, was vergete. Sy was die een. “Sy sou ’n ingenieur word. Die eerste dogter in haar familie wat universiteit toe sou gaan. Om ’n graad te kry . . .”

Een ding kon Saai nie heeltemal afskud nie. Dis die kuier twee of drie aande per week in die dorp. Met sy pelle strooi gesels. En dan die grondpad laataand aandurf. Maar sy het hom laat kies – óf sy óf die gekuier. Hy het gesweer hy sal dit los. As hulle verloof sou raak –  die aand ná die dans.

Saai het stilgebly. Die druppels het van die koeldrankbottel afgegly en langs die hopie papier op die tafel beland. Die bakkie het nie dié aand op ’n soel Karoonag die pad plaas toe gekry nie, het ek geweet.

Ek het na Saai gekyk waar hy sonder bene in die rolstoel sit. Ek het in sy oë gesien toe hy opkyk dat hy 40 jaar later nog droom van die soen en die verlowing op die plaas wat nooit gebeur het nie.

Hy het die halfgedrinkte Coke weggestoot.

“Haar naam was Karlien,” het hy gesê.

Meer oor:  Liefde  |  Sielsgoed  |  Rolstoel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.