Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Straatbrak onthou die goeie ou dae
Gerhard Verdoorn

Sy oë loer verlep na mensdiere wat in die park drentel, met gesigte verskans agter doek en masker teen ’n onoorwonne vyand. Die hare aan sy maer lyf het soos wintergras voor die mag van koue en ryp die wyk geneem.

Mensdiere stap ongeërg verby die strydros wat aan die einde van die lewe se pad gekom het. Niemand buig eers af om sy verweerde kop met ’n vriendelike woord te streel nie.

Hy sug, so asof die moed van die aarde hom begewe het. Sy oë sak toe met gedagtes wat diep wegsink na die dae toe hy die strate regeer het.

Dit was groot pret in die ou dae.

Vroegoggend voor eerste hanekraai moes die melkman wakker loop om nie ’n span straatbrakke agter sy dikwielfiets aan te haak nie.

Sodra hy die bottels afgelaai het, was dit soms moontlik om die bottel om te stamp en die wonderlike yskoue melk gulsig op te lek. Ná sononder het die melkeienaars verwoed op al wat rondloper en bedelaar is geskel, onwetend dat dieselfde sondaars snags die vullisdromme omgedop het.

Was dit nie ’n wonderlike ding nie!

As die drom met trompetgeskal omval en die deksel die straat afrol, is daar woes gekrap, geknor en baklei oor die oorskiet, wat soms soos vyfsternagkos was.

As die drom met trompetgeskal omval en die deksel die straat afrol, is daar woes gekrap, geknor en baklei oor die oorskiet, wat soms soos vyfsternagkos was.

Braaivleisbene, stywe mieliepap, harde brood, kinders se groente wat neusoptrekkerig agtergelaat is, alles was ’n fees.

Vir ’n straatbrak was dit ’n wonderlike lewe.

Smiddae net nadat die son begin draai het, was dit speel en skerts met skoolkinders wat in troppe huis toe gestap het.

Toebroodjies, biltong, droëwors en selfs ’n sjokolade of twee is aangebied en koppe is gestreel. Maar o, as die kinders met so ’n straatbrak op hul hakke by die hek opgedaag het, was dit besems, stokke en klippe wat ’n straatbrak slinks moes laat wegglip om ongeskonde weg te kom.

Dit was altyd ’n waagstuk om nie onder die ysterperde se wiele te beland nie, maar as die posbodes hul wit koeverte kom aflewer het, was al die snedige geskree van ma’s vergete.

’n Posman se dikwielfiets was net te lekker om te jaag. Blaf en speels byt aan die grys broek! Feestelikheid!

Later het die posmanne slim geraak en stokke vir selfverdediging saamgedra, maar vir ’n straatbrak het dit die uitdaging net groter gemaak. O, daardie wonderlike dae!

Die warm middagson breek hom uit sy beswyming van vergange se dae.

Geen melkmanne nie. Die posbodes raak minder soos poskantore sluit.

Kinders word met luukse voertuie by skole opgelaai en om ’n motor te jaag, is darem nie so lekker soos ’n fiets nie.

Vullisdromme staan soos verbode paleise so hoog dat geen hond daarby kan uitkom nie.

Dis ’n karige bestaan met niemand wat meer omgee vir dit wat om hulle ’n karige bestaan voer nie.

  • Verdoorn is ’n natuurliefhebber en -bewaarder.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.