Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Verhaal van ’n ryk man en die haweloses

Een van Jesus se gelykenisse vertel die verhaal van Lasarus, wat op ’n ryk man se stoep lê en dan sterf.

Die gelykenis spook by my. Veral wanneer die winterreën so neergiet en ek my in my warm duvet toewikkel.

Net voor die onlangse storm wat die Kaap getref het, kry ek ’n noodoproep van MES, ’n nieregeringsorganisasie wat na haweloses omsien. Hulle sal al die logistieke ondersteuning gee, maar is daar nie êrens ’n kerksaal wat hulle kan gebruik om mense vir die duur van die storm te huisves nie?

Oombliklik flits die beelde van buitelanders wat die Metodistekerk in die Kaap beset het deur my. Terselfdertyd besef ek instinktief: Om dié bos gaan ek nie kom nie – hy is aan die brand, hier reg voor my. ’n Paar oproepe later kry ons die goeie nuus van my tuisgemeente: Hulle sal hul kerksaal beskikbaar stel.

En toe begin een van my kosbaarste en mees sinvolle ervarings die afgelope paar jaar. ’n Broos klompie mense het die eerste nag opgedaag. MES het hulle met bussies aangery. Koerante in plastiek toegeplak, het as matrasse gedien. Die tweede aand het die getalle letterlik verdubbel, maar toe was daar matrasse.

’n Weldoener het gebel en gesê hy skenk dit. Só het daar kos en klere en komberse opgedaag. Lidmate van ander kerke het as vrywilligers kom help. Ek hoef letterlik vir niks meer as net die kerksaal se sleutel te gevra het nie.

Die gesing in die badkamers voordat die bussie hulle vroegoggend oplaai om verder te gaan “skarrel” (hul eie woord), sal my bybly.

Alle protokol is gehandhaaf, met koorsmeting, sanitasie en sosiale afstand in die saal. Vrywilligers het byvoorbeeld aandetes bedien terwyl die haweloses op hul matrasse gesit het. Daar was nie ’n gebondel by die kosverspreidingspunte nie.

Elke oggend is als netjies opgeruim en uitgevee. Daar was geen gekla of gemor nie. Die gesing in die badkamers voordat die bussie hulle vroegoggend oplaai om verder te gaan “skarrel” (hul eie woord), sal my bybly.

Die haweloses wat ek leer ken het en die buitelanders wat onlangs ’n kerk beset het, is na my mening twee verskillende groepe. Haweloses is broos mense, vervreem van hul mense, gemeenskap en hulself.

Hulle is ook dankbare mense wie se blymoedigheid my ’n paar keer byna in trane gehad het. Natuurlik is daar sommige moeilike kalante en verslaafdes onder hulle, maar hulle kan met goeie dissipline hanteer word.

Hierdie uitdaging is nie maklik nie, maar beslis nie ’n onmoontlike een nie. ’n Volhoubare strategie vir toekomstige hantering van haweloses behoort nou ’n prioriteit te wees. Kerke behoort deel van die gesprek te wees.

Die afgelope tyd het ons almal gesien hoe “gemeenskappies” onder brûe, by bushaltes en vele ander plekke vermeerder. Ons het dit gesien en dan anderpad gekyk. Mag die virus ons nou help om dieper te kyk en iets te doen.

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Liefdadigheid  |  Haweloses  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.