Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Vuis skiet uit na my prent
skildery

Van die kliënte in my sielkundepraktyk by my huis het al beweer dat hulle God is, en dis oukei. Dit is in daardie stadium van hul lewe hul bewuste realiteit. Tog verkies ek by tye om deur die mooie kaf in hul koppe te krap om hul eintlike storie te kry.

Die middeljarige Brett (nie sy regte naam nie) sit hier voor my in Toowoomba, Australië. Sy langerige, vaalblonde hare krap aan sy T-hemp se kraag en hy is op ’n growwe manier aantreklik, al begin sy middellyf effe tjoep.

“Ek weet jy het vier beroepsgevegte gehad. Ek’t gisteraand op YouTube gekyk,” sê ek vir hom.

In ons vorige sessie het ek vir vir hom genoem dat ek van kleintyd af boks kyk. Hy het my ongelowig aangekyk en vertel dat hy in sy jong dae as die beste middelgewig-amateurbokser in Australië bekroon is.

“Ja, en ek het nie een beroepsgeveg gewen nie. Die ouens was almal tien jaar ouer as ek,’’ lispel hy effens verleë terwyl hy na my mat kyk.

“Wat dink jy van rugbyspelers wat begin boks nadat hulle hul toks opgehang het?” gooi ek die aas na hom uit.

Hy kyk my vierkant in die oë en neem my gevange soos ’n slang wat sy prooi nie ’n aks uit sy gesigsveld laat ontsnap nie.

Hy kyk op. “James, kom ek vertel nou vir jou,’’ sê hy gedemp-driftig terwyl hy tot op die punt van sy stoel skuif en sy arms op sy knieë laat rus. Hy kyk my vierkant in die oë en neem my gevange soos ’n slang wat sy prooi nie ’n aks uit sy gesigsveld laat ontsnap nie. Ek kyk stip na die letsel tussen sy oog en platgeslane neusbrug.

“Rugbyspelers weet van hardloop en aangee, maar hulle het ‘f***all fighting skills’. Ek sal hulle almal op hul rug sit, al is ek net ’n middelgewig,’’ sê Brett terwyl sy linkervoorarm na benede tuimel en hy dié met ’n klapgeluid in sy regterhand vang.

Hy wei uit: “Dit gaan oor koördinasie, nie net krag nie.’’ Dis asof hy ’n boksklok hoor lui en die adrenalien neem van hom besit. Hy spring hier, reg voor die koffietafel wat ons skei, kiertsregop terwyl sy neus­vleuels liggies tril. Hy draai na my windpompskildery aan my kantoormuur en sê: Verbeel jou dis ’n teenstander se neus dié.’’

Hy wys na die punt in die skildery waar lig en donker mekaar ontmoet.

“As jy nou daarnatoe slaan. . .’’ beduie hy terwyl hy sy vuis terugtrek.

Brett het my in sy eerste sessie vertel hoe hy ’n gat in sy psigiater se kartonboksmuur met sy vuis gemaak het, en ek sien in my geestesoog hoe hy my kosbare skildery moer toe slaan.

Asof in stadige aksie lig ek my agterstewe effens van my stoel op.

My gedagtes gaan vir ’n breukdeel terug in tyd.

Dit is die jaar 1999 en ek is nie heeltemal ontspanne terwyl ek tussen die stalletjies by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees ronddrentel en na skilderye kyk nie.

Dit voel altyd vir my asof ek vir kunstenaars sê hul werk is nie mooi nie as ek dit nie vat nie.

Daai gevoel het ek al op laer- skool gekry toe ek eendag met ’n prent in die hand gehardloop het na die buurtannie wat skilder.

Ek het op harde bord wat pa by Federated Timbers in my grootworddorp, Welkom, gekoop het, ’n bootjie wat op die mynpan voor ons huis lê met verf probeer vasvang. Kinders sien die fynste nuanses in grootmense se gesigte raak en my ma het my agterna gepaai.

“Ag, Jimmy, moet jou nie aan die tannie steur nie. Ek het nou die dag gesien hoe sy teen die verkeer op in die eenrigtingstraat ry.’’

Ek steek by die kunstefees vas by ’n skildery van ’n windpomp in my geliefde Vrystaat waar ek grootgeword het.

Ek kyk na die skilder by die stalletjie met sy innemende glimlag en besluit om die skildery te koop.

Die Godin sê ek moet stadig. Dit is die tweede skildery wat ek koop. Ons troue is om die draai en daar is baie uitgawes.

Die Godin sê ek moet stadig. Dit is die tweede skildery wat ek koop. Ons troue is om die draai en daar is baie uitgawes.

Donkiejare daarna kyk ek verwonderd na die einste kunstenaar se skilderye in ’n Clarens-kunsgalery en ek verstaan waarom ek daar in die verblindende Karoo-son aanklank by die windpompprent gevind het.

Die skoonheid daarvan is universeel.

Eendag kyk ’n Aussie-vrou nadenkend na my skildery en sê: “Dis in die Outback, nè.”

Sy wei uit oor hoe sy haar boer-pa, met sy binnekant pompend van hoogtevrees, daar op die windpomp se houtdakkie sien staan.

Weg van my gedagtevlug en terug in my kantoor is Brett se reflekse hier voor my ondanks sy ouderdom verbysterend.

Ek het hom die vorige aand op my rekenaarin aksie gesien. Hy was net 19 jaar oud. Dis hoe oud my kleinste kinders nou is.

Hy was pas op parool uit met sy geoefende blokkiesmaag, die resultaat van eindelose sit-ups in sy tronksel. Hy het enduit beeldskoon in die bokskryt gedans en nie een moment uit pas geraak terwyl hy met sy regop kuifie voor en borselkop agter vorentoe gebeur het nie. Sy bolyf en voete was ’n simfonie wat nooit uit pas gelyk het nie.

Ek het in Welkom as kind saam met my predikant-pa boks in ’n bedompige saal gaan kyk. Die lug was blou gerook en ek kon nie mooi sien nie.

Vir die eerste keer sien ek nou helder hoe regte bokskuns regtig lyk.

Brett wissel hier reg voor my vlugtig sy voete en sy arm pik soos ’n vollengte adder teen ’n helse spoed na my skildery voordat ek vervaard keer.

Sy vuis stop ysig, net ’n sentimeter voor my kosbare skildery.

Ek sit terug in my stoel en my arms sak verlig langs my sye soos dié van ’n dirigent ná die orgasme van ’n simbaal.

Ek het jongtyd al kuns, koor en balskop opgegee.

Maar Pa, jy kry net ’n trophy as jy ’n bal kan vang, nié vir people skills nie.

Genetiese karma is ’n realiteit en my dogter sit jare terug in haar blou laerskooljurk met ’n frons tussen haar oë voor my. Sy luister nie na een van my trooswoorde nie. Sy sê in haar effe Engelse aksent: “Maar Pa, jy kry net ’n trophy as jy ’n bal kan vang, nié vir people skills nie.”

Tog, die kuns wat ek elke dag in my werk moet probeer bemeester, is om mense wat andersdenkend as ek is te laat voel dat dit vir hulle die moeite werd is om ’n paar uur van hul lewe saam met my deur te bring.

skildery

Brett sak terug in sy stoel en mompel ingedagte: “Jy’s my shitfilter en jy sal my moet help. Die hofdatum is vasgestel en ek weet nie of ek jou daarna weer sal sien nie.’’

Ek trek my notas nader en dink vlugtig aan die prent wat vanoggend hier in my kantoor afgespeel het.

Die psigiater Carl Jung beskryf sinchronisiteit as betekenisvolle toevallighede.

In my kop is dit skaars verskynsels en doem dit onverwags soos ’n dief in ’n donker nag op.

As ’n verbyganger vanoggend deur die glasdeur van my praktyk sou loer, was die prent hier binne dalk surrealisties.

Vir my was dit pragmooi.

Meer oor:  Sielkundige  |  Kuns  |  Skildery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.