Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Wonderlike, gekompliseerde lewe . . .

My dogter sal vandag sê, “it’s complicated”. My verhouding met my ma was ingewikkeld, skryf Jo Prins.

Jo Prins

Dis Desember 1987.

Die Groot Krokodil sit nog knus duskant die Rubicon en die land brand nog nie heeltemal nie, maar daar is gerugte van revolusie . . .

Uit ’n wit Stellenbosse enklawe maak ’n tien stuks van ons – almal skoolvriende wat pas klaar met matriek is – reg vir ’n laaste epiese somervakansie.

“Laaste”, want vroeg in die nuwe jaar wag universiteit op heelwat van ons klas, maar óns groepie is almal saam opgeroep vir diensplig . . . twee jaar van jou lewe vir “PW & Seuns”.

By die see was die klankbaan meestal U2 (veral die album The Joshua Tree) Depeche Mode, Queen en one hit wonders soos Black met “Wonderful Life”.

“Here I go out to sea again, the sunshine fills my hair and dreams hang in the air . . . gulls in the sky and in my blue eyes.

“You know it feels unfair, there’s magic everywhere. Look at me standing here on my own again, up straight in the sunshine.

“No need to run and hide, it’s a wonderful, wonderful life . . . ”

En vir ons, anders as vir baie van ons landgenote, wás dit wonderlik. Boonop het ’n reuse-avontuur voorgelê.

Maar diep agter die branders by Hermanus se Grotto-strand het ek mense op die land sien rond hardloop. Veral twee het hande in die lug geswaai, dan my kant toe gewys, en dan weer geswaai en gewaai.

Oom Butch, ’n groot man wat op sy dag vir die Bokke uitgedraf het, het daar met ’n mondvol tande gestaan.

Eers het ek gedink daar is dalk ’n haai, maar toe ’n vriend, Dieter, nader geswem kom en sê dis sy pa op die strand en dat hulle my soek, is ek uit deur die vlak water na hulle kant toe.

Oom Butch, ’n groot man wat op sy dag vir die Bokke uitgedraf het, het daar met ’n mondvol tande gestaan.

Hy’t eers dié kant toe getrap, toe daai kant toe, sê toe: “Jammer seun, maar daar’s geen ander manier om dit te sê nie . . . jou ma is dood.”

“O,” het ek gesê en toe tot goed skemer in die doolhof-paadjies tussen die bosse voor die strand rondgedwaal.

‘It’s complicated’

My moeder se dood was geen verrassing nie, dit was meer ’n kwessie van tyd, van wanneer, want lewerkanker het ’n wyle al aan haar gevreet.

Maar soos my dogter vandag sal sê, “it’s complicated”, my verhouding met my ma was ingewikkeld.

Ek was die laatlam, die jongste van vier, wat met moord kon wegkom. En ek en my pa het ’n verhouding gehad wat ek en my moeder nooit sou hê nie.

Waar my pa se benadering “live and let live” was en op wedersydse respek en vertroue berus het, was my en my ma s’n een van agterdog. Agterdog en gebed.

Die siekte het natuurlik iets daarmee te doen gehad, maar sodra iets lyk of dit nie gaan uitwerk nie was die moeder op haar knieë.

Só het sy my skynbaar eiehandig deur matriek gebid (daar wás beslis bonatuurlike ingryping, hiervan kan ek getuig).

Só is ek saam met honderde ander seuns op die troepetrein uit die Kaap uit na Kimberley, elkeen met ons eie “wonderful life”. Ek onthou nog die skim wat in die weerkaatsing van die kompartement se ruit na my toe teruggekyk het, want van ál ons Prinse het ek die meeste na my ma getrek.

Liefde was daar, natuurlik. Maar op ’n baie basiese vlak, as iemand my sou vra of ek van haar gehou het, is ek nie seker of my antwoord ’n dawerende “ja” sou wees nie.

“It’s complicated . . .”

’n Paar dae later, terug van Hermanus, laat weet my broers en suster my dat die begrafnisondernemers sê dat ek na “Mamma” kan gaan kyk as ek wil, “daar waar sy lê”.

My bejaarde tante het gesê “hulle het haar so mooi gemaak”.

Ek het nogal geworstel hiermee: Moet ek gaan kyk? Moet ek nie gaan kyk nie? Help die laaste kyk werklik met closure?

’n Laaste kyk na iemand wat ’n verrykende impak op my lewe gehad het, maar met wie ek nooit werklik oor die weg gekom het nie?

Nee wat, het ek uiteindelik besluit. Ek het in die lewe genoeg na haar gekyk, hierdie blik op die dood – na ’n liggaam waarin sy in elk geval nie meer is nie – het ek nie nodig om by my te spook nie.

Só is ek saam met honderde ander seuns op die troepetrein uit die Kaap uit na Kimberley, elkeen met ons eie “wonderful life”.

Ek onthou nog die skim wat in die weerkaatsing van die kompartement se ruit na my toe teruggekyk het, want van ál ons Prinse het ek die meeste na my ma getrek.

“You know it feels unfair, there’s magic everywhere. Look at me standing here on my own again, up straight in the sunshine.

“No need to run and hide, it’s a wonderful, wonderful life . . .”

* Jo Prins is ’n vryskutjoernalis van Johannesburg.

Meer oor:  Jo Prins  |  Kimberley  |  Stellenbosch  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.