Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Nico Botha: Hoe vra ’n gelowige politieke vrae?
Alle Suid-Afrikaners en geloofsgemeenskappe behoort sekere vrae oor die verkiesing te vra, skryf Nico Botha.

Foto: AFP

In Suid-Afrika benader ons dinge soos demokrasie, die Grondwet en verkiesings asof dit alles Godgegewe, onaantasbare groothede is. Vrae oor wie se demokrasie dit is, vir wie die Grondwet werk of wie voordeel uit verkiesings trek, kan irritasie wek.

Dis wonderlik dat ons nog ’n demokratiese, plaaslike verkiesing kon beleef, veral as ’n mens in ag neem dat die politiek in Suid-Afrika die afgelope tyd ’n gevaarlike afwaartse spiraal getoon het, maar die land is nou by ’n punt waar sulke vrae gevra moet word.

Vrae waarmee Christene in Suid-Afrika biddend, denkend en handelend behoort te worstel, is onder meer: Is die wedywering in die verkiesing gesonde politiekery of lê dit ou, gevestigde verdeeldhede bloot? Moet ons dankbaar wees dat die verkiesing nie deur groter geweldpleging gekenmerk is nie of sê ons uitdruklik dat een sterfte te veel is? As iets soos 60 000 mense meeding om slegs 9 000 poste, is dit ’n teken van ’n volwasse demokrasie of van armoede en werkloosheid?

’n Ernstiger vraag is natuurlik hoe die kandidatelyste tot stand kom. Is dit suiwer demokraties saamgestel of is dit die produk van die gevaarlike patronaatskap wat in Suid-Afrika posgevat het?

Glo stemgeregtigdes regtig dat hul stem ’n duit kan verander aan die tydbom van ongelykheid, werkloosheid en armoede?

Dit maak nie saak hoe sondig of hoe klein of hoe swak of hoe arm hulle is nie. Sy ryk behoort aan hulle.

Alle Suid-Afrikaners en geloofsgemeenskappe behoort oor dié vrae na te dink, maar Christene kyk deur die lens van ’n spesifieke storie daarna: Dis die storie van ’n wandelaar uit die onderste laag van die samelewing wat oral rondloop en soek na diegene wat die slegste afgekom het van ’n verdrukkende en verontmenslikende stelsel. Hy soek hulle om hulle gesond te maak, brood te gee en hul menswees te herstel.

Hy nooi hulle op ’n vriendelike manier uit om onder sy sagte juk in te klim en Hom te volg na waar die lig skyn en waar daar vergifnis te kry is en geregtigheid en vrede en vreugde.

Dit maak nie saak hoe sondig of hoe klein of hoe swak of hoe arm hulle is nie. Sy ryk behoort aan hulle.

En al sou Christene in Suid-Afrika net gedeeltelik vat kry aan dié narratief, behoort hulle die vrae wat hier gevra word, soos volg te beantwoord: “Ons, die Christene van Suid-Afrika, sal ondanks ons eie partypolitieke keuses, ons steeds beywer vir groter eenheid, samehorigheid en maatskaplike samehangendheid tussen alle mense.

“Ons doen dit as ’n teenwig vir pogings om die land se mense weer op nuwe maniere op grond van ras, etnisiteit, klas, geslag en godsdienstige oortuiging te fragmenteer en te verdeel.

“Ons rig ons in die naam van God se geregtigheid teen elke vorm van toeëiening, begunstiging, politieke en ekonomiese patronaatsnetwerke.

“Op grond van ons begrip van die verhaal van God se ryk, sê ons ongelykheid, werkloosheid en armoede die stryd aan in belang van die mense in ons samelewing wat steeds swaarkry – afgesien van hul ouderdom, ras of geslag.

“Ons is oortuig as ons dit doen, lewer ons ’n groter en helderder getuienis oor die ryk van God en die evangelie van Jesus Christus as alle preke op ’n Sondag saam.”

* Prof. Nico Botha is verbonde aan die departement teologie aan Unisa en ’n tentmaker-leraar in die VGK.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.