Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Niemand het geweet van die kind op die bodem nie’

Jy weet nie altyd wanneer die donkerte of die winter kom nie, skryf Carina Stander. 

Carina Stander.

Die laaste klompie jare skommel ek en Gerrit ons werkure om by die seisoene te pas. Die Kaapse winterdae is kort. Seweuur soggens is dit donker en teen vyfuur is die sonnetjie skraps.

Daarom werk ons in die wintermaande wanneer die kinders op skool is en dan weer in stikdonkerte: Ek skryf van agt tot tienuur saans óf van twee tot vieruur soggens; Gerrit doen sy rekenaarprogrammering vanaf vieruur in die oggend. Want wanneer die dag op sy warmste en ons kinders op hul wakkerste is, wil ons speel. Vir ure aaneen. So sit ons troppie dan meeste winterdae teen drie-uur met die sokkerbal af strand toe. Of, as die wind waai, stap ons oor die berg, deur die woud en fynbos, oorrompel deur die wonders van die habitat. Hier rol ons dalk nie aldag in die geld nie (allermins!), maar ons rol darem saam oor die duine.

Hoogsomer sak die son eers agtuur, dan werk ons gewone kantoorure en gaan eers vyfuur see toe – swem, snorkel, ry lyfplank saam met die seuns.

Een so ’n somermiddag bly my by. Die strandmeer was stampvol met meer watervoëls as gewoonlik. Kiewiete in sjiek wit en swart snyerspakkies. Slanghalse wat sondroog op ’n klip. ’n Bloureier, trots-regop en eenkant by die riviermonding.

Kleuter Ilan het stralend saam met sy pa geswem, opblaasvlerkies aan die boarms. Ek en agtjarige Aden het al agter die visse aan gesnorkel tussen rietgras en rotse wat gewoonlik bo die water uitsteek. Ná die reën was die water troebel, ontwrig – die dofgroen kleur van boomwortels.

Die mense het hom eers die volgende dag gevind. Hy was ons verwer se stiefseun. ’n Kind sonder asem onder water.

Wanneer ons ons hande oor die bodem vee, het lugborreltjies soos piepklein pêrels opgestyg. Versigtig het ons in die halfdonkerte gesnorkel, hand aan hand.

’n Dromerige, effens onheilspellende onderwaterwêreld.

In dié strandmeer, rondom dié rotse het ’n twaalfjarige seun ’n paar jaar gelede verdrink. Ingeduik, kop teen ’n rots. Helder oordag.

Ons het daardie Sondagmiddag saam met vriende langs die strandmeer gepiekniek – almal se kinders het in die water baljaar. Niemand het geweet van die kind op die bodem nie. Die mense het hom eers die volgende dag gevind. Hy was ons verwer se stiefseun. ’n Kind sonder asem onder water.

’n Kind het eenmaal in my vrugwater gesterf.

Toe ons klaar gesnorkel het, het Aden beduie na die roofvoël (moontlik ’n valk, moontlik ’n visarend) wat vanaf ’n hoë krans op die berg stiljag.

Waarom vlug die ander seevoëls nie vir hom nie? het hy hardop gewonder.

Miskien weet hulle nie, het ek gesê.

Dis toe dat Ilan opkyk en onbedoeld digterlik laat hoor: “Kyk hoe waai die blare-maak-wind.”

Terug by die huis het ek en Gerrit die laaste glas rooiwyn in die kas gedeel. Terwyl die kinders bad, het ons ui, tamatie, soetrissie, murgpampoentjie en maalvleis geroerbraai, toegevou in tortillas. Aan tafel het die seuns gestry, mekaar skoon doodgebid met “dankie hiervoor” en “dankie daarvoor”. Vars, soet pynappel vir nagereg. Agtuur, met die kroos in die kooi, het ons gewag vir beurtkrag, maar dit het nie gekom nie. Ons het in elk geval die brandende kerse uitgepak. Want mens weet nie altyd nie.

Jy weet nie altyd wanneer die donkerte of die winter kom nie. Tot tyd en wyl mag die kamer ruik na sitronellakers terwyl jy luister na die blare-maak-wind.

* Carina Stander is 'n digter en skrywer. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.