Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Nou kan ons genadiger met mekaar leef
Aniki
Aniki Joseph

En toe hy in jou arms lê,sy mondjie teen jou volle bors,het jy toe geweet dat hy sou sê, toe dit te laat was: Ek het dors!

Dié aangrypende vers uit “Maria” deur Elisabeth Eybers vul my krop steeds met vassteek-huil. Ek sien haar verwese staan onder die donker koepelhemel terwyl die son om 12:00 verdwyn en die tempelvoorhangsel middeldeur skeur. Haar flenterhart wat spoel, breek en stort in pyn. Sy, die nooi van Nasaret, wat eens ’n lofsang gesing het toe sy die vreugde-boodskap van die engel ontvang het dat sy ’n seun sou baar.

Ek sien in my geestesoog ’n kus in die aangesig van verraad.

Ek sien in my geestesoog ’n kus in die aangesig van verraad; dink aan ’n haan wat drie maal sou kraai in die oomblik van verloëning; angssweet wat soos bloeddruppels op die grond val. Ek hoor die sondaarsgebed van ’n ander man aan ’n kruis. Ek hoor die woorde: “Dit is volbring.”

Ek sien die verdwaasde vroue wat met reukolie by ’n oopgerolde leë graf opdaag en die somber Emmausgangers wat nie dadelik kon verstaan nie. Ek aanskou die hemelsfeer se oneindigheid, verby wit wolkekrabbers tot in die oneindigheid, soos tydens die Hemelvaart. En ek wonder in Eybers se woorde: Maria, vrou van smarte, het jy tóé die boodskap goed verstaan?

Dié naweek sal ons Paasfees vier; ons huis die bymekaarkomplek van geliefdes. Die kombuis sal die geure van kerrie, kardemom, kaneel, steranys en lourier dra. Vrydag sal ons skouer aan skouer sit tydens die kerkdiens, Nagmaal gebruik ter nagedagtenis, in ontsag en aanbidding. Later aansit om die familietafel. Kerrievis, kapok­ertappels, soetpatat en Paasbolletjies met baie rosyne in geniet. Die tafel sal gedek wees met kerse, gipskruid en handgevlegte palmkruisies.

Sondagoggend sal die kinders en kleinkinders teen die trappe af bondel met slaperige oë om Paaseiers in die tuin te soek.

Sondagoggend sal die kinders en kleinkinders teen die trappe af bondel met slaperige oë om Paaseiers in die tuin te soek. Brosbruin lamsboud, groenbone, krakerige ertappels en gebraaide soetwortels sal op die spyskaart wees.

En ons sal met intense eerbied dink aan die prys wat betaal is sodat ons vry en heel kan wees. Genadiger met mekaar kan leef. Onvoorwaardelik lief kan hê. Die vyfde gebod uitleef in alles wat ons doen of dink, want dit is waarop die mensdom hoop. Om in waarheid op te tree, want die waarheid maak vry en wanneer ons dinge vanuit ons siel doen, word ons ’n rivier wat in strome van vreugde vloei.

Mag ons ook met deernis dink aan die gesondheidswerkers, wetstoepassers, brandweerpersoneel en alle ander personeel wat aan diens sal wees terwyl ander families saam kuier. Sal dien in soms lewensgevaarlike omstandighede. Ook aan mense op reis of vasgevang in pyn, wanhoop, vrees of eensaamheid.

“Eli, Eli, lama sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U my verlaat? Mag ons ook onthou dat omdat Hy op aarde intense pyn en verlatenheid ervaar het, niemand ooit weer Godverlate hoef te wees nie.

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Paasfees  |  Geloof  |  Genade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.