SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Nou weet Oom Frik van my!

Hy sou nie in sy wildste drome kon dink dat dié Frik du Preez, sy held van kleintyd af, hom eendag sou bel nie, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman met die gesogte rugbybal waarop Frik du Preez se handtekening is.

Was dit nou vir jou ’n heerlike gevoel om deur die kommentaar van Netwerk24-intekenaars op my vorige rubriek, “ ’n Held soos Frik”, te lees.

Vroeg die Maandagoggend reeds was daar heerlike en positiewe kommentaar deur Rooi Jan, Alla Wêreld, Esmé Greenfield, Ian Sapeo, H. Nortjé en Andries Holm.

Pieter Basson skryf: “Lekker artikel, Willem! Goed geskryf.” CH Neller se kommentaar was: “Ja nee, ’n groter lewende legende kan jy nie kry nie! . . . baie goeie lekker leesstorie!”

Arthur Randel skryf: “Dit was nou nice. Kan Dana Snyman of ander rugbyskrywers nie reël dat Willem saam met Oom Frik ’n bier gaan drink nie?”

Kruger van der Merwe meen: “Wat ’n opregte huldeblyk.” Willemien van Rooyen meen dat dit fantasties is dat Oom Frik besing word terwyl hy nog lewe en dit kan waardeer.

Maar dit was die kommentaar van Bes du Preez wat my laat regop sit het: “Een van die mooiste stories wat oor Frik geskryf is. Dankie Willem.”

Kan dit dié Tannie Bes wees? Die ou Grote se eie vrou, het ek op my eentjie gewonder? En as dit wél sy is, dan sal sy Oom Frik daarvan sê! En vir die eerste keer in my lewe, het ek gedink, sal Oom Frik van my bestaan bewus word . . . ás dit wel Oom Frik se vrou is.

Ek het nie lank nodig gehad om te wonder nie, want toe gebeur dinge teen ’n verbysterende pas.

Ek was sprakeloos. Oom Frik weet van my, sy vriende bel my!

Kort ná 08:00 lui my landlyn by die werk. Dis ’n vriend van Oom Frik aan die ander kant. Hy is mateloos beïndruk met die rubriek. Hy reël gholfdae waar hulle soms aandenkings van Oom Frik opveil vir liefdadigheid. Hy herinner my aan die feit dat Oom Frik die Suid-Afrikaanse Rugbyspeler van die Eeu was.

Vir dáárdie geleentheid is vyf rugbyballe van egte leer gemaak en deur die ou Grote geteken. Hy wil graag, met Oom Frik se toestemming, een van dáárdie balle vir my aanbied. ’n Rugbybal met Oom Frik se handtekening is vir my net so gesog soos ’n sokkerbal met die legene Pelé se handtekening.

Ek was sprakeloos. Oom Frik weet van my, sy vriende bel my! Ek’s in die sewende rugbyhemel van geluk. Ek verduidelik waar dit afgelewer kan word en hy lui af.

’n Oproep van Oom Frik

Willem Fransman met sy geraamde foto van Frik du Preez.

Dinsdagoggend het skaars sy kop begin optel toe bel Dana Snyman. Ná ons na mekaar se welstand verneem het, vra hy my of dit oukei is as hy my nommer vir Oom Frik gee. Oom Frik se vrou, Tannie Bes, het die rubriek gelees en hy wil self vir my dankie sê. Wel toe bestaan daar geen twyfel meer by my nie. Oom Frik weet nou ook van my!

Net ná 11:35, lui my sakfoon. Ek antwoord ietwat senuweeagtig. Ja, dis die bekende fluweelsagte stem aan die ander kant. Ons praat soos ou bekendes, amper familie.

“Maggies man, jy laat my bloos, jy ken my amper beter as wat ek myself ken,” merk Oom Frik in ’n stadium op. Ons loop wye draaie. Ek vertel hom van my agtergrond en dis asof hy net hier oorkant my sit.

Ná ’n gesprek van bykans agt minute, maak ons beloftes dat sou ek weer in Pretoria of omgewing kom, ek hom sal kontak sodat ons dalk ’n vleisie op die kole kan gooi. En sou hy Kaap se kant toe kom, sal ons iewers ’n biertjie gaan drink.

Die vriend van oom Frik wat my aanvanklik gebel het en wat graag anoniem wil bly, bel my die Woensdag om te bevestig dat die bal op pad Kaapstad toe is saam met ’n kollega van hom. Donderdagoggend kort voor 11:00 kry ek ’n oproep van ons sekerheidsmense in die ingangsportaal by my werksplek.

En dáár staan ’n jong man met die rugbybal in sy hande! Ek kon my vreugde nie verbloem nie. Toe my hande oor daai egte leerbal streel, het ek gevoel soos daai keer in 1970 toe ek my eerste rugbybal met sy vier nate met my gespaarde sakgeld gekoop het. Die gevoel was onbeskryflik; niks kan by die reuk van egte leer kom nie.

Teen die tyd dat u hierdie rubriek lees, het Oom Frik reeds sy 84ste verjaarsdag gevier. Oom Frik, Tannie Bes, ek en my familie hoop dat julle ’n wonderlike dag op die plaas kon deurbring.

Aan Netwerk24 se lesers wil ek net sê: Die uitdrukking wil dit hê dat jy moet oppas waarvoor jy wens, want dit kan dalk net waar word.

Wel, in my geval het dit gebeur!

* Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Bes Du Preez  |  Frik Du Preez  |  Willem Fransman Jr.  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.