Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Nuwe respek vir die Karoo en sy mense
05 September 2018

Dit is ’n dag vir skuilte soek teen die laat Augustuswinde wat die fyn Karoosand in stofduiwels oor die werf laat dans en de leste druppel opslurp van die 1 mm reën vroeër die week.

Dit was diepnag toe daardie skamele druppels val, en ek het opgestaan en die ou plaashuis se venster opgeskuif.

Die reën het suutjies geval; vir ’n oomblik dag ek dis pure my verbeelding. Maar die reuk van klam grond was onmiskenbaar, al was dit van korte duur, en die volgende oggend was my eie en die hond se spore oor die werf steeds maklik om raak te sien.

Só kon ek sien ons het ’n skemeraand saam met kuiermense na die fontein gestap, en al was ek die afgelope maand verskeie kere daar taan die verwondering nie. Enersyds vir die helder water wat, sover iedere siel in die omgewing van weet, nog nooit opgedroog het nie, en andersyds vir dié wat deur die klipbanke gekap het vir ’n kanaal om die water vrugteboord en werf se kant toe te keer. Wanneer dít presies gebeur het, kan niemand meer onthou nie.

Doer tou ons spore ook na die troeteldierbegraafplaas. In ’n gesprek met die vorige bewoner van die plaas simpatiseer ek omdat sy wraggies niks minder nie as vier vierpotige kinders in 2006 hier ingespit het – só is dit gemerk op die klippe.
Sy lag, en dis vir my vreemd, maar toe sy eers vertel, verkneukel ek myself ook dae lank aan die storie.

Nee, dit was nie alles haar eie troeteldiere nie. Een, dalk twee, maar die ander was die Kaapstadse kind s’n. Want dis nou maar ’n ding van dié Karoogeweste: is daar geboorte en doop en dood in die familie, keer die sterwelinge en gestorwenes terug. En dus het haar seun vir Kiets en Wagter daar in die stad toe nou maar eers gevries tot ’n geleë tyd . . .

Klaarblyklik is daar altyd die dasse, en nou die simpel westewind wat die reën verjaag.

Eindelik was dit somer en vrek warm, so toe is dit maar aanstoot en voet in die hoek sit Koup-Karoo toe, en sy sê dit nie en ek vra nie, maar dalk het hulle Psalm 42 gesing vir die half ontdooide dierefamilie. Dit sou tog gepas wees.

Nog ’n streep spore is na een van die klipkrale, waarvan elkeen ’n monument behoort te wees vir wíl en kán. Dis waar die hond van vroeg- tot laatdag dassies soek. “Dasse,” is die bondige plaaslike woord.

Ek vra: “Wat se mis lê so diep teen die stoepmuur?” En: “Wat skrou so weemoedig teen skemertyd?” Ook: “Wat vreet die blare van die jong bome so áf?” En elke keer is die antwoord kort, afgemete: “Dasse.”

Klaarblyklik is daar altyd die dasse, en nou die simpel westewind wat die reën verjaag. Maar daar is ook die klipspringers wat al oor die rante ballet – “herte in dorre streke” – en élke aand die mooiste, heel mooiste sonsondergange.

Wanneer ek môre die motor se neus weer na die noorde draai, sal dit met nuwe respek vir die Karoo en sy mense wees.

Meer oor:  Karoo  |  Sielsgoed  |  Troeteldier  |  Begraafplaas  |  Respek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.