Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Om getrek te wees is beter as om te trek

My vriendin Hettie Scholtz , ’n sobere beoordelaar van die letterkunde, is ook bekend as die mees “getrekte” vrou in die land. Net so maklik as wat sy ’n manuskrip oopmaak, so pak sy op en trek. En pak sy weer uit, om kort voor lank wéér in te pak.

Sy het nie eens ’n verhuisingsberader nodig nie – haar humorsin is heeltemal genoeg. Jy kry sulke dienste – verhuisingsberaders. As jy ene raadpleeg, verstaan ek, is dit soos ’n diep ondersoekende en deurtastende onderhoud.

Want vir die meeste mense is trek nie net vir inpak en vat jou goed nie. Die verhuisingsberader weet glo dat ’n voornemende trekker ’n ander mens word wanneer die trekkery ’n voldonge feit word.

Dood, egskeiding en trek – die groot traumas in ’n mens se lewe. Die berader glo hiervan is trek die grootste. Dis net sigeuners wat maklik trek, want hulle trek met huis en al. Ander mense trek met meer sielkundige as gewone bagasie.

Beraders werk dan met kliënte se koppe, hul siele, hul persoonlikhede, hul vrese. ’n Trekker moet meer besluite neem as die uitvoerende hoof van ’n internasionale korporasie. Want hoef so ’n ou al ooit ’n besluit te geneem het oor of ’n ou vergeelde foto van ’n strandpiekniek uitgegooi of gehou moet word? Skeidingsangs tref trekkers soos ’n dief in die nag.

Skuldgevoelens duik op: Mag jy regtig jou ma se ou Kook en Geniet, so verflenterd soos wat dit is, weggooi? Die boek(e) wat jy jare gelede geleen het? Die gekraakte Meissen?

Ek ken ’n man wat dit nie oor sy hart kan kry om sy meer as 200 dasse weg te gee nie – want elke das het mos ’n storie.

Ek ken ’n man wat dit nie oor sy hart kan kry om sy meer as 200 dasse weg te gee nie – want elke das het mos ’n storie.

Beraders waarsku dat jou diere belangriker as enigiets anders is. Trek is dikwels vir hulle ’n groter trauma as vir jou.

Jou juwele gaan kluis toe. En as jy ’n Irma Stern het, ook kluis toe. Of afslaers toe. Maar jou diere gaan luukse dierehotelle toe, of diereberaders toe, maar weg, weg van die chaos van ’n trekkery.

As jy emigreer, het beraders ander raad en dienste. Nie net oor dokumente en nog meer dokumente nie, maar veral op sielkundige gebied.

As jy die selfdoenroete wil volg, gebeur vreeslike dinge, of jy nou emigreer of nie. Jy maak lysies, verloor hulle; plaas belangrike dokumente in bokse en vergeet in watter bokse.

Jy gaan deur eksistensiële wroeging oor boeke wat jy by mense geleen het en nooit teruggegee het nie – een van hulle is al dood.

Jou hopies goed vir liefdadigheid, die ashoop of familielede raak deurmekaar. Jy moes onthou om die ketel, koffie en bekers uit te hou vir lafenis terwyl jy trek, maar ongelukkig het jy dít ook weggepak.

Ek trek presies 18 trappies af. Ek emigreer nie. Ek sien my nuwe voordeur van my ou voordeur af.

Ek moes ’n berader ingeroep het.

Meer oor:  Menings  |  Huis  |  Trek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.