Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Om ons land onder woorde te kan bring
Annemarie van der Walt

Hoe kry ’n mens hierdie land klein?

Ek en die kind vra mekaar dié vraag byna gelyktydig af. Om ons op die eetkamertafel lê stapels boeke tussen die soutpot en servette, oorblyfsels van vroeër se uitgerekte ete.

Dit het alles begin met een boek oor ’n tema uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat die student moet lees vir ’n werkstuk, en soos dit met gesprekke gaan, dwaal ons naderhand af van die onderwerp waaroor haar gekose boek gaan en spring ons elke nou en dan op om nóg een van die boekrak te vis.

Eerste was daar Hermann Giliomee se Die Afrikaners: ’n Biografie. Voorin is daar ’n aanhaling van NP van Wyk Louw: “Die hele lewe leef in ons: om onsself te ken [. . .] moet ons al die gestaltes ken wat in ons aanwesig is.” Dit word die trant van ons eie nagtelike soektog, die soveelste probeerslag, om ons land onder woorde te bring.

Nou lê Vivian Allen se Kruger’s Pretoria en Lady Trader: A Biography of Mrs Sarah Heckford oopgeslaan, op die tafelrand balanseer Hans Strydom se Super Afrikaners langs J.C. Steyn se Die 100 jaar van M.E.R. Ek kon dit ook nie weerstaan nie om oudergewoonte die versamelde werke van Eugène Marais oop te slaan by die essay met die mooie en melancholiese titel: “ ’n Paradys van weleer.”

Soms dink ek aan ons generasie as die ‘stil generasie’.

Die verre verlede is ’n ander land, allermins ’n Eden, maar veiliger om deur te waad en ’n mening oor te vorm met die voordeel van terugskouing uit verskillende en uitlopende bronne. Maar dit is wanneer ons langsamerhand vorder tot die meer onlangse geskiedenis en ek wegtrek met mý oorwoë menings dat die kind aandring: Lúister na my.

Tellings tevore het sy juis ’n tersyde opmerking gemaak: “Soms dink ek aan ons generasie as die ‘stil generasie’. En ek weet ons het onder meer die ganse spektrum van sosiale media tot ons beskikking, maar dis ’n mynveld. As jy jou nek uitsteek met ’n opinie . . . iemand gaan jou uithaal. Veiliger om ’n foto van jou hond te post . . .”

En vir elkeen sal dit ánders, ’n ander stukkie geskiedenis, wees, generasie ná generasie.

Ek luister; sy teoretiseer en beantwoord sommige van haar eie vrae – ek moet konsentreer om nie die debat te onderbreek met stereotipiese one-liners nie. Want só snoer ons oueres soveel keer die jonger geslag se mond en ons weet wragtig nie altyd beter nie.

’n Paragraaf uit Barbara Kingsolver se The Poisonwood Bible kom by my op: “We can only speak of the things we carried with us, and the things we took away.”

En vir elkeen sal dit ánders, ’n ander stukkie geskiedenis, wees, generasie ná generasie.

Ons raak mettertyd stil om die tafel. Ons het onsself suf gepraat, suf geluister en steeds ontwyk die harde neut van weet ons.

En dan skuif sy ’n beskrywing van Sarah Heckford oor die tafel na my toe: “[. . .] life in South Africa, where, as far as my experience goes, everything is exaggerated – dangers, difficulties, beauties and advantages.”

Dit, ja, knik ons, dit glo ons.

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Land  |  Woorde  |  Menings  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.