Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Om te bid vir verlossing in die dood
Op pad met Dana
Dana Snyman Foto: VIA

Hy was die oggend in sy winkel op Soebatsfontein doenig, vertel oom Soekie Goosen, hier kom tant Sêra aan. Een van die plaaslike mense. Kom help, Meester, sê sy. Andries roep vir Meester.

Hy is vas by die winkel, sê oom Soekie vir haar. Kan hy nie maar vanaand kom nie? Maar tant Sêra bly karring: Andries, haar man, soek hom.

Oom Soekie het die winkel gehad, en hy was die posmeester. Soms het hy sommer vir die mense gepreek ook. Hul naaste predikant het op Kamieskroon gesit.

Ek sê vir ou Sêra, goed, as dit dan moet, en ek stap oor na die Blou Kamp toe, vertel oom Soekie. Die bruin mense het toe in die Blou Kamp gebly. Ek kom daar by Andries se huisie, en ek sien die ou is ellendig. Hy kry skaars die woorde uit.

Ons het nie vir kanker geken in daai jare nie. Maar ek skat hy’t kanker gehad.

Hy is net ’n bondel bene. ’n Arm, eenvoudige ou mens. Kan nie lees nie. Het sy lewe lank skaap opgepas.

“Ek wil hê Meester moet vir God vra om my te kom vat,” sê Andries.

Hy is net ’n bondel bene. ’n Arm, eenvoudige ou mens. Kan nie lees nie. Het sy lewe lank skaap opgepas.

Ek dag ek kan mos nie in daai rigting bid nie. ’n Mens kan mos nie bid en vir die dood vra nie. En ek bid en vra vir God om Andries se pyn te verlig en hom beter te maak, en ek groet hom en gaan terug winkel toe.

Die volgende dag, hier is ou Sêra weer, sê oom Soekie. Andries roep weer na my. Ek is toe maar weer Blou Kamp toe.

“Meester het nie gister reg gebid nie,” sê Andries met ’n flou asempie.

“Meester moet bid dat God my kom vat. Die pyn, Meester.”

Ek kan nie in daai rigting bid nie, ou Andries, sê ek vir hom. En ek bid en vra maar weer: Dierbare Vader, laat ou Andries se pyn skietgee. Kyk hoe lyk die ou man.

God, Andries wil hê ek moet bid dat U hom kom haal. Mag ek dit doen? Sê vir my.

Maar daai nag kan ek nie slaap nie. Andries is die hele tyd in my gedagtes.

Later sê ek vir God: God, Andries wil hê ek moet bid dat U hom kom haal. Mag ek dit doen? Sê vir my.

Die oggend, nog voor ek die winkel oopsluit, hier is Sêra weer. Andries vra al weer na my.

Help my, liewe Vader, dink ek, en gaan maar Blou Kamp toe. Ou Andries trek hom so halfregop in die katel, gedaan.

“Meester moet my nou genadig wees,” sê hy. “Ek kan nie meer nie.”

Ou Sêra is ook by. Sy vee die sweet met ’n asynlap van Andries se gesig af. “Ons het al self ook gebid, Meester.” sê sy, “Maar dit smaak my God luister nie na ons nie. Meester is die een wat Bybel lees en hier vir ons kom preek van sy genade. Vra vir God, Meester.”

“Wat doen ’n mens as iemand so ’n ding vir jou sê?” vra oom Soekie. Ek was net terug by die winkel, toe kom ou Sêra weer daar aan.

Ou Andries lê nou al vir hoeveel jaar in die Blou Kamp se begraafplaas begrawe.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Oos-Kaap Naweek  |  Bid  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.