Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Om te sing van Jesus se bloed en sy wonde

Een van die klassieke Sionsgesange bevat onder meer hierdie woorde: “Sing van Jesus bloed en wonde; wees in Hom jul verheug”. Hierdie woorde kan misverstande veroorsaak, want mense kan dit dalk sien as bloeddorstig en gewelddadig.

Baie mense meen hierdie lied moet liewer nie gesing word nie, want ’n godsdiens wat sing van bloed en wonde en ’n ruwe kruis blaas geweld aan.

Tog, in hierdie Heilige Week wat uitmond in die herdenking van Christus se dood en opstanding, sing Christene wêreldwyd van Jesus se bloed en wonde.

Hiermee wil Christene nie sê dat die Christelike geloof sadomasochisties is nie. Dit besing nie ’n God wat op sadistiese wyse mense laat ly nie. En dit gaan nie oor mense wat op byna patologiese wyse genot put uit hul swaarkry, lyding en leed nie.

Nee, hiermee wil Christene eerder hul diepste oortuiginge, verlange en hoop uitspreek, naamlik dat die bloed wat op Golgota vergiet is, sal lei tot ’n einde aan alle bloedvergieting in die wêreld.

Die kruis is die bevestiging van hemelse solidariteit met mens en plant, dier en natuur wat ly.

Dat daar deur die wonde op Golgota ’n einde sal kom aan alle wonde in die wêreld; dat die kruis op Golgota ’n einde sal maak aan alle kruise in die wêreld; dat die lyding op Golgota ’n einde sal bring aan alle lyding in die wêreld; dat die geweld op Golgota die weg baan vir die einde van alle geweld in die wêreld.

Die kruis is die bevestiging van hemelse solidariteit met mens en plant, dier en natuur wat ly. Die kruis vertel van ’n God wat nie onaangeraak is deur lyding en leed nie.

In Christus het God nie net mens geword nie, maar veral lydende mens. In die gekruisigde Christus sien ons die God van medelye en deernis.

Die vieringe van Heilige Week verseker ons dat God solidêr is met ons in ons nood; dat God saamvoel met ons.

Hierdie week vertel dat daar ’n einde sal kom aan lyding in die wêreld. Dit laat ons wetenskap en tegniek, kennis en navorsing inspan om lyding in die wêreld te takel.

Hierdie week laat ons nie wegvlug van weerloosheid, kwesbaarheid en lyding nie, maar laat ons teenwoordig wees by lydende mense en skepsele. Dit laat ons voorts altyddeur sorgsaam leef, selfs al kan ons nie genees nie. (“We cannot always cure, but we can always care.”)

Hierdie week laat ons soek na voorlopige vorme van genesing en uiteindelik na volmaakte genesing. Dit laat ons werk vir heling en heil. En die heling wat van Golgota kom, is omvattende heling – liggaamlik, emosioneel, ekonomies, ekologies, sosiaal, polities, moreel, geestelik.

Dis met sulke ryke verwagtinge en hoop dat ons in ’n lydende wêreld sing van Jesus bloed en wonde.

Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Geloof  |  God  |  Wonde  |  Bloed  |  Paasfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.