Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ongelykheid vervreem ons van mekaar

Soveel opregte pogings van Suid-Afrikaners om eenheid en sosiale samehorigheid oor kleur- en kultuurgrense heen te bou sneuwel dikwels, onder meer omdat daar nog soveel ongelykheid in ons samelewing is.

Suid-Afrika word immers as een van die lande met die grootste kloof tussen sosio-ekonomiese groeperinge beskou.

Nico Koopman

Sosio-ekonomiese ongelykheid loop tot ’n groot mate, hoewel nie uitsluitlik nie, langs kleurlyne. Ook is vroue – veral swart, bruin en Indiërvroue – merendeels aan die ongunstige kant van sosio-ekonomiese ongelykheid.

Dié ongelykheid word vergestalt oor die breë spektrum van die samelewing heen en kom voor op maniere wat eenheid belemmer.

Oor die jare heen hoor ek verhale soos dié: “Ons jeug het onlangs die NG Kerk se jeug besoek. Daai mense het sulke skitterende geriewe. Ons sal hulle nooit na ons gemeente met ons gebrekkige geriewe kan nooi nie.”

Of: “Ek wil graag met die NG Kerk se predikante saamwerk. Hulle haal egter oorsese boeke en skrywers aan – ek het nie soveel tyd om te lees soos hulle nie.

“Soms is hulle tot vyf predikante in ’n gemeente so groot soos myne, wat ek alleen bedien. Ek konfereer dan liefs met kollegas wat my probleme verstaan en my nie oorweldig met literatuur wat nie eens altyd vir my konteks ter sake is nie.”

Soms word die vervreemdende effek van ongelykheid nie so sigbaar ervaar nie, maar die onderbewuste handelinge van histories meer bevoordeeldes werk dit onbedoeld in die hand.

Soms word jou sinne vir jou voltooi, word wat jy sê geparafraseer en “beter” geformuleer. Of jou bydrae word gerelativeer deur ’n vertelling wat kwansuis meer interessant en insiggewend is.

Eenheid sal sekerlik groei as dit een is wat soek na versoening, geregtigheid en ewewig, soos die Belhar-belydenis dit verwoord.

Soms word die geselskap deur die entoesiastiese uitstal van kennis oor onderwerpe soos geskiedenis, musiek of kuns oorheers.

Die vervreemdende effek van ongelykheid word op ons kampusse ervaar wanneer party studente gesellighede soos huisdanse kan bywoon en ander half skaam op die agtergrond bly. Of as sommige in restaurante eet en ander beswaarlik ’n broodjie kan bekostig.

Dis ook opvallend hoe meestal swart en bruin kollegas nie in universiteitsdorpe verblyf kan bekostig nie. Die feit dat kollegas dieselfde salaris verdien, vergoed nie vir die historiese agterstande nie.

Ongelykheid bring mee dat mense dieselfde studie- en werkruimtes kan deel, maar dat hulle nie dieselfde sosiale ruimtes kan bekostig nie.

Die strewe van die gemeente van Handelinge 4 na samelewings van gelykheid, waar sommige nie te veel en ander te min het nie, bly relevant.

Eenheid sal sekerlik groei as dit een is wat soek na versoening, geregtigheid en ewewig, soos die Belhar-belydenis dit verwoord.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed  |  Rubriek  |  Godsdiens  |  Menings  |  Ongelykheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.