Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ons hoef nie ons drome te laat sterf nie

Dié nuwe jaar, wat 25 jaar sedert die koms van inklusiewe demokrasie in Suid-Afrika inlui, begin met hartseer gebeure.

Brande van Wuppertal tot Gansbaai saai verwoesting. Medemense en die natuur ly. In Schweizer-Reneke ontdek ons hoe sterk ons nog langs kleurlyne heen verdeeld is.

Demokrasie word wêreldwyd toenemend as die sogenaamde beste regeringsmodel bevraagteken. Een rede daarvoor is dat die demokratiese visie van menswaardigheid, heling, geregtigheid, vryheid en gelykheid nie vir almal in vervulling gaan nie, veral nie vir noodlydende mense nie.

Die reaksie van individue en instellings op die nood wat brande meebring, is ’n bron van hoop. Op besoek aan Wuppertal is die eerste woorde wat ek en dr. Jerome Slamat, Morawiese predikant, hoor by drie vroue wie se huise geheel en al afgebrand het: “In Wuppertal is ons familie. Ons woon in by mekaar. Ons sorg vir mekaar.” Ons ervaar hoe die leierskap van die Morawiese Kerk teenwoordig by die mense in nood is.

Biskop Brian Abrahams lei ons pastorale besoeke van huis tot huis. Hy en sy kollegas laat ons aan die woorde van pous Franciscus dink: “ ’n Herder moet soos haar kudde ruik.”

In Schweizer-Reneke hoor ons te midde van die seer hoopvolle stemme.

Ons is getuies van verskillende instansies in die openbare en korporatiewe sektore wat saamstaan. In Bettysbaai en omtrekke sien ons hoe brandbestryders en vrywilligers onverpoosd werk om die brande te blus en slagoffers te help. In Schweizer-Reneke hoor ons te midde van die seer hoopvolle stemme.

Daar is uiteraard amptelike ondersoeke aan die gang, maar intussen kan ons tog let op positiewe stemme wat ons rondom hierdie seer gebeure hoor. Jy hoor stemme wat sê dit is absoluut belangrik dat ons nie meen die werk om rassevooroordeel tot ’n einde te bring is agter die rug nie. Ons is immers kundiges in ’n lewe van divers en apart, maar ons moet nog só baie leer oor divers en saam.

Skole, godsdienstige instellings, universiteite en alle samelewingsinstellings moet verseker dat personeel en leerlinge toegerus word met kennis, waardes en vaardighede vir ’n lewe van divers en saam.

Jy hoor stemme wat ook erkenning daaraan gee dat ons op bewuste vlak teen diskriminasie gekant kan wees, maar dat ons op onderbewuste vlak steeds met vooroordeel kan funksioneer. Ons moet derhalwe deelneem aan helende, bevrydende en bemagtigende bewusmakingsprosesse.

Positiewe stemme van Wuppertal tot Schweizer-Reneke laat ons moed skep vir ons land, en laat ons besef ons het genoegsame geestelike, maatskaplike en mensekapitaal om die demokrasie te laat werk. Ons durf nie en hoef nie ons drome te laat sterf nie.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed  |  Rassisme  |  Brande  |  Nuwejaar  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.