SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ons is nie vry om te kies nie

Ons mag dalk dink ons is vry om keuses te maak, maar eintlik is ons nie, skryf Dawid Kuyler.

Dawid Kuyler

Die lewe bestaan uit keuses.

Keuses wat ons self maak en keuses wat ons onder aandrang van ander maak en keuses wat ander vir ons maak. Sommige keuses het ingrypende gevolge vir ons en ander se lewens. Ander keuses verander nie veel aan ons lewens nie.

Baie kan geskryf word oor keuses. Dit is ’n wye veld, maar ek moet ’n keuse maak watter aspek daarvan ek in hierdie rubriek wil bespreek. Die keuse was ook nie so maklik nie.

Ek wil kyk na wat ons keuses beïnvloed. Soms neem ’n mens instinktief ’n keuse en ander kere gaan ’n lang proses van nadenke en gesprekke ons keuses vooraf. Sommige keuses kan as selfsugtig beskrywe word terwyl ander onselfsugtig is en ander se voordeel in die oog het.

As afgetredene het jy nie ’n keuse oor jou inkomste nie, maar wel wat jy elke dag doen.

Sommige aande vra my vrou my: Wat doen jy môre? Dan moet ek haar meedeel dat ek eers moet slaap en kyk hoe die weer die volgende dag is, want dit bepaal of ons saam gaan stap en of ek gaan visvang. Die keuse oor visvang is reeds gemaak, dit hang net daarvan af of ek dit tot uitvoer gaan bring.

Ons dink dat ons as individue die vryheid het om ons eie keuses te maak. Dit kan dalk so lyk, maar ons keuses word sterk bepaal deur die samelewing waarin ons woon. Ons is dalk nie heeltemal so vry om ons eie keuses te maak nie. Dalk leef ons met ’n illusie van vryheid. Aan die hand van ’n paar voorbeelde wil ek aantoon hoedat ons keuses nie in totale vryheid geskied nie.

Watter werk wil jy doen?

Sommige persone kies ’n bepaalde beroep omdat oupa en pa ook daardie beroep beoefen het. Dit kan werk, maar dit kan ook later in die lewe boemerang as jy onder die invloed van familie ’n beroep gekies het.

Vir ’n boer is dit hartseer as sy seun nie lus het om die boerdery wat oor geslagte opgebou is, oor te neem nie. As jy nie in jou hart ’n boer is nie, dan is dit die verkeerde keuse om te maak om ouers tevrede te stel.

Dit is ook waar dat sommige van ons ’n bepaalde beroep wil volg, maar jou punte op skool en wat die universiteit vereis, verskil hemelsbreed. Dit kan ook wees dat jou punte goed is, maar jy kry nie keuring vir jou bepaalde beroep nie.

Jou keuse is nie altyd net jou eie nie.

In die verlede het mense neergesien op beroepe waar handearbeid en vaardigheid vereis word. Jy kon nie sommer sulke beroepe kies nie, want in jou familie doen ’n mens dit nie. Gelukkig het dit verander.

Die spanning tussen wat jy wil en kan doen en wat die familie verwag, kan sterk wees.

In my eie familie was daar ongemaklikheid oor ons oudste seun wat ’n balletdanser geword het. Dit was eers toe hy naam begin maak en in Duitsland ’n wonderlike loopbaan as danser gehad het, dat sy keuse ander se goedkeuring weggedra het.

Ek aanvaar daar is baie wat verhale kan vertel van hoedat hulle in ’n bepaalde beroep ingedwing is of uit ’n bepaalde beroep gehou is. Jou keuse is nie altyd net jou eie nie.

Wat wil jy eet?

Van watter kos hou jy en waarvan hou jy nie?

My dogter is ’n dieetkundige en het gewys hoe sy haar kinders van kleins af gewoond gemaak het aan ’n verskeidenheid van kossoorte en smake.

Ons is vry om te eet wat ons wil, maar die samelewing waarin jy grootgeword het, het ’n groot inspraak op jou vryheid van keuse.

Hul koskeuses is nie in vryheid gemaak nie, maar deur die ma wat uit liefde wil sorg dat hulle die regte voedingstowwe inkry.

As koshuiskind moes ek eet wat voorgesit is en ná hoërskool het ek vir jare nie rooibostee gedrink nie. Die samelewing waarin ons woon, bepaal ook ons koskeuse. Mense uit die Ooste hou van ander kossoorte en kossmake as mense van Afrika. Mediese toestande het ook ’n sê oor jou koskeuses.

As jy gluten-intolerant is, moet jy graanprodukte uitsny. Diabete moet gerus maar die soetgoed verbyhou. As jy arm is, dan is jou keuses ten opsigte van kos baie beperk. Ons is vry om te eet wat ons wil, maar die samelewing waarin jy grootgeword het, het ’n groot inspraak op jou vryheid van keuse.

Vir wie stem jy?

Watter politieke keuses het en maak ons?

Gedurende die apartheidsjare was wit Afrikaners se keuse beperk tot die Nasionale Party. Die samelewing en die kerk het hierdie keuse vir jou gemaak. Diegene wat anders gekies het, is gesien as verraaiers.

Wat is nou jou keuse?

Kies jy vir pres. Cyril Ramaphosa omdat hy hoop gee of sal jy teen jou sin die DA met al sy probleme bly ondersteun net omdat jy nie kans sien vir die ANC nie? Jong arm swartmense se keuse vir die EFF is nie moeilik nie. Die EFF praat hul taal.

Het ons genoeg kennis en insig in ons land se politiek om ’n vrye keuse te maak en onsself uit te spreek oor die politiek?

Watter invloed het die media op ons politieke keuses?

Ons is afhanklik van die media vir wat ons weet van die politiek en die media is ook nie so vry as wat hulle voorgee nie.

Het ons genoeg kennis en insig in ons land se politiek om ’n vrye keuse te maak en onsself uit te spreek oor die politiek?

In Nazi-Duitsland het die Duitse Sosialiste mense meegesleur in hul politieke keuses. In Suid-Afrika het iets soortgelyks ook gebeur. Talle lande in die wêreld sit met dieselfde uitdagings.

Vra maar die Amerikaners en hul verskillende nuusdienste.

Wat koop jy?

Die advertensiewese beïnvloed ons keuses van wat ons koop. Deur die media word vertel wat ons nodig het en hoekom ons dit nodig het. Dink maar net hoeveel keer is jy winkels toe om iets spesifiek te koop en dan kom jy terug met veel meer.

Dit is asof die winkels ons vryheid om te kies wat jy wil koop eenkant skuif en jou help om van jou geld ontslae te raak.

Ek sou nog ook oor ons vryheid van keuse in sport en godsdiens kon skrywe. Dit is sake vir ’n volgende keer.

Vryheid van keuse is ’n ideaal. Ons moet nooit toelaat dat die samelewing ons onder die illusie bring dat ons keuses in alle opsigte in vryheid geskied nie.

Word ons keuse om soms nie te kies nie, dalk ook vir ons geneem?

Ons moet vrymoedigheid neem om te vra wat en wie bepaal of beïnvloed my keuses. ’n Kritiese ingesteldheid is nodig vir vryheid van keuse vir die individu en organisasies.

Dalk moet ons in Suid-Afrika vra: Hoe vry is ons werklik om keuses te maak? Word ons keuse om soms nie te kies nie, dalk ook vir ons geneem?

Geniet jou beperkte vryheid van keuse.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Eff  |  Dawid Kuyler  |  Cyril Ramaphosa  |  Suid-Afrika  |  Nazi-Duitsland  |  Keuses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.