Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Ons kan nie vir eendag wag nie’
Prof. Rantoa Letšosa is die nuwe dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Dis vermoeiend om dag ná dag van Covid-19 te hoor. Dit maak mense negatief. Ons word bang.

Covid-19 is nie meer doer ver en net statistieke nie. Dit is ’n werklikheid wat ons getref het. Mense om ons en geliefdes toets positief. Van hulle sterf. Ander word gesond.

Werkloosheid en armoede neem drasties toe.

Hoe bly ’n mens positief wanneer soveel mense sterf en hul werk verloor?

Midde-in hierdie pandemie is dit belangrik om te onthou dat die lewe voortgaan.

Ons kan leer uit ’n storie van ’n man wat die sirkus besoek het en daar ’n belewenis gehad het wat sy lewensbe-skouing heeltemal verander het.

Hy het die sirkusolifante buite die tent sien staan, elkeen met ’n band om die poot en ’n dun ketting daaraan, vasgemaak aan ’n dun pen wat in die grond ingehamer is.

Klein sirkusolifantjies sien wat die grotes doen. Dit word ’n patroon. ’n Herhaling.

Hy het die olifante lank beskou en gesien hulle beweeg bitter min.

Ondanks hul grootte en krag breek hulle nie die dun kettings nie.

Hulle trek ook nie die penne uit die grond uit nie. Hulle probeer nie eens nie, want hulle weet van kleins af dit sal vergeefs wees. Hulle is gewoond aan die kettings en dat hulle beskerm, versorg en gevoed word.

Klein sirkusolifantjies sien wat die grotes doen. Dit word ’n patroon. ’n Herhaling.

Olifante is tropdiere wat vir veiligheid en beskerming eenvoudig doen wat die res doen. Want sonder die trop kan die lewe gevaarlik wees.

Dit is asof die sirkusolifante aanvaar die lewe wat hul leef, is hoe die lewe geleef moet word. Dat hulle daarmee vrede moet maak.

Wanneer hulle deur die olifanthan-teerders losgemaak word om in die arena op te tree, word hierdie diere se ware krag gesien.

Ná elke vertoning word hulle egter weer vasgeketting, en weer eens word hulle nie oproerig of breek hulle nie weg nie.

Soveel mense dink ook hulle kan nie beweeg, losruk en aangaan met die lewe nie.

Dit is so jammer. Dit is asof hulle ook met kettings vasgebind is.

Dikwels baat dit nie eens om vir party mense te sê hulle moet hul krag gebruik om los te kom nie.

Dít terwyl daar nie regte kettings is om van los te ruk nie.

Ons word dikwels vasgehou deur kettings wat slegs in ons koppe bestaan. Ons word soos sirkusolifante gekondi-sioneer.

Die mens is in staat tot groot dinge.

Maar, ons moet onthou: Dit is mense wat die groot en gevaarlike sirkus-olifante tem.

Die mens is in staat tot groot dinge.

Die Here het ons in staat gestel om met verantwoordelikheid oor die natuur te heers.

Genesis 1: 26 vertel van die mens se vermoë en gesag om te kan regeer.

Maar vrees en onverantwoorde-likheid laat ons soms magteloos terugdeins.

Ons roeping is om terug te keer na God se bedoeling vir ons lewe – om oor alles te regeer. Die eerste stap is om in nederigheid weer na Sy wil te soek en om te bid vir wysheid.

Ons is nie tropdiere wat slegs ander moet volg nie. Ons moet vooruit beplan en die beste maak van die tyd, ook in hierdie tyd van Covid-19.

Die lewe gaan nie weer “normaal” wees, soos wat dit was nie.

Ons weet nie hoe lank Covid-19 gaan voortwoed nie en die ekonomie gaan vir lank nie dieselfde wees nie.

Ons kan nie vir eendag wag, totdat dit nie meer daar is nie.

Ons moet nóú ’n nuwe normaal leef.

  • Prof. Letšosa is dekaan van die Universiteit van die Vrystaat se teologiefakulteit.
Meer oor:  Koronavirus  |  Geloof  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.