Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ons kort ’n Leah-dag van liefde vir almal

Ai, Leah.

Ek wens ek kon vir jou sê hoe jou hondjie Batman al om die huis op jou spore loop op soek na jou.

Daai ogies is só hartseer. Hy ruik-ruik aan elke vreemde mens, so of hy wil weet waar die besige krullebol is wat saam met hom in die groot erf gespeel het.

Ek sien jou lag in ouma Amelia se oë waar sy in die kombuis sit en vertel hoe jy met daai woeste hare inhardloop agter pappa Michael aan om koebaai te sê. Sy gee oupa Andries ’n drukkie as sy verby hom stap. “Daar was net een Leah,” sê hy.

In die stilte wat huiwer in die kombuis in die groot huis in Du Plessislaan, Langenhovenpark, met die reuk van koffie en lente dink almal net aan een ding: Die bondeltjie plesierigheid met die vrolike lag wat altyd hier in en uit gewals het.

Almal wil op daardie verskriklike Vrydag agter jou aan hardloop, arms uitstrek, jou vang en styf vashou voordat jy op die ou hoop grond kon staan om jou op te trek teen die heining om na die honde aan die anderkant te kyk.

Ma Jeslee het oor die heining gespring en die twee honde van jou klein, klein lyfie weggejaag en jou styf in haar arms vasgedruk.

Ons kan nie pyn stop nie. Nie dié pyn nie.

Toe ek by haar en pa Michael staan en gesels waar hulle op die agterflap van die bakkie sit, is dit of die dag loop stilstaan, al die karre wegraak en die perskebome hul eerste wit en pienk bloeisel afskud.

Ons kan nie pyn stop nie. Nie dié pyn nie.

’n Pa, ma, oupa en ouma en ooms en tantes se pyn waar hulle saans in die kombuis gesels oor jou, en huil en lag as hulle die talle staaltjies in jou propvol 26 maande vertel.

“No, no, oupa!” kon jy so kwaai vir oupa Andries sê as hy jou geterg het deur te maak of hy sussie Jené by jou wou vat.

“No, no, oupa!” kon jy so kwaai vir oupa Andries sê as hy jou geterg het deur te maak of hy sussie Jené by jou wou vat.

Jy het mos graag Engels gepraat, lag hulle. Soos toe jy vir pappa soentjies blaas en sê: “Love you, Pappa! Bye!”

Ouma Amelia vertel van die mooiste gebaar van Griekse sakelui wat ’n Leah Steyn-stigting wil begin om jaarliks op die herdenkingsdag van jou dood pienk kolwyntjies aan die kinderhuise se kinders uit te deel.

Vanoggend dink ek aan jou met daardie pienk pajamas op die foto wat ma Jeslee uit die album gekies het.

Ons kort ’n Leah-dag in elke huis en skool.

’n Dag van lag en omgee. Van liefde, soos net jy kon lag en liefhê. Sonder vrae of voorwaardes of vooroordele. Ons kort ’n Leah-uur elke dag om te dink aan jou, jou geliefdes en almal orals in die land wat deur dié pyn worstel van ’n kind wat te vroeg moes koebaai sê.

Tussen ons, duisende, wat oor jou dink en worstel, en die lewe se groot, groot monsters staan ’n krulkop-dogtertjie met pienk pajamas en ’n lieflike glimlag en sy sê hokaai, julle.

Stop, kyk om jou, gee om, lewe.

In jou liefde, Leah, is die krag vir ons om voluit te lewe.

Meer oor:  Charles Smith  |  Leah  |  Batman  |  Afsterwe  |  Hartseer  |  Rou  |  Hond  |  Sielsgoed  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.