Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ons kort weer stemme wat by kwesbares staan

Ek wonder dikwels waarom ons geloofsgemeenskappe so stil is, hoekom hul leiers stilbly ten aanskoue van onreg, ongelykheid en dinge wat eenvoudig nie reg is nie.

Reggie Nel

Waarom is daar geen stem wat standpunt inneem nie – wat ’n stem word vir onskuldiges wat dikwels in vrees lewe en selfs gekriminaliseer word omdat hulle hul stem laat hoor? Waarom ons onwilligheid om by die kwesbares te staan?

’n Sprekende voorbeeld was toe gemeenskappe soos Bonteheuwel, Manenberg en Westbury onlangs eis dat die regering iets doen aan die veiligheidsituasie. Daar is niks radikaals aan dié beroep nie – dis ’n basiese behoefte waarop gemeenskappe geregtig is. Maar waarom die stilte van die kerke in die ekumeniese beweging?

’n Onlangse ervaring uit ’n ander oord het my iets van ’n antwoord gegee. Ek het toevallig in Carnarvon beland, saam met ’n student vir sy proefpreek, en is diep getref deur die armoede en gebrek aan geleenthede vir jongmense in en om dié pragtige dorp. Terwyl ons die warme gasvryheid van die gemeente beleef, vra ons vrae oor die werkloosheid, moedeloosheid, drankmisbruik en armoede om ons. In so ’n situasie is die versoeking groot om die mense self te blameer. Ons begin toe dieper vrae vra.

In gesprek met die leraarspaar kom ons agter daar is iets dieper aan die werk. Verskeie gemeenskapslede verwys na die verwoestende maatskaplike impak van ’n peperduur navorsingsinisiatief, wat aanvanklik honderde werkgeleenthede belowe het. Dit is met opgewondenheid aanvaar en groot buitelandse geld is belowe, maar toe word die arm plaaslike mense – die plaaswerkers – uitgestoot.

As die plaaseienaar (en politici!) groot geld aangebied word, wat maak dit saak of die plaaswerkers en hul gesinne hul werk en inkomste verloor?

As die plaaseienaar (en politici!) groot geld aangebied word, wat maak dit saak of die plaaswerkers en hul gesinne hul werk en inkomste verloor? Of as die toekoms van hul kinders op die spel geplaas word – hulle is mos nie regtig ’n politieke faktor nie? Maar ons vra hoe is dit moontlik? Wat het geword van die politici, die regeringsparty, die kamerade en die vryheidsvegters? Wie sal opstaan en hul stem laat hoor vir die plaaswerkers?

Miskien lê die antwoord op die worsteling met geloofsleiers juis in die dinamika van Carnarvon. Daar is ’n patroon: Dit begin by ’n belofte van groot geld, groot ontwikkelinge in ’n konteks van ekonomiese kwesbaarheid, en die gemeenskap (geloofsleiers inkluis) kies om die politici te vertrou: Hulle sal na ons kyk; hulle moet verantwoordelik gehou word; hulle moet die stem vir die kwesbares wees. En dan die skok, ontnugtering en tragiese gevolge – hulle het Gods water oor Gods akker laat loop.

As ons die geskiedenis van die antieke profete bestudeer, sien ons ’n ander storie. Ons sien ongemaklike, onkonvensionele optredes – baie keer teen die stroom op. Die keuse word gemaak om eers stil te word en te luister na ’n ander stem – nie van die mark of van politieke korrektheid nie – maar die stem vir wat reg is, vir die waarheid, selfs waar die magtiges nie saamstem nie. Ons het weer daardie stemme nodig.

Prof. Nel is dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Godsdiens  |  Geloof  |  God  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.