Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ons treur nie oor statistieke nie, ons treur oor ménse

Die treffende voorblad van The New York Times van Sondag 24 Mei het heelwat gesprek ontlok. Anders as die gebruiklike artikels en foto’s, is gewoon lang kolomme name geplaas – verteenwoordigend van mense wat tot in daardie stadium in Amerika weens Covid-19 gesterf het.

By sommige name is ’n reël toegevoeg wat uit plaaslike koerante se doodsberigte ontleen is, byvoorbeeld Patricia H. Thatcher, 79, “sang in her church choir for 42 years”, Frank Gabrin, 60, “emergency room doctor who died in his husband’s arms” en Angeline Michalopulos, 92, “who was never afraid to sing or dance”. Hierdie voorblad se punt is duidelik: die pandemie behels meer as statistieke, dit gaan oor ménse, unieke mense met spesifieke stories. “They Were Not Simply Names on a List. They Were Us,” lui die opskrif dan ook.

Elkeen van ons sal seker op ons eie manier, ook in hierdie vreemde tye, kan onderstreep dat ons en ons geliefdes nie maar bloot lede van ’n spesie is nie; nie maar in die algemeen deel van die mensdom nie. Nee, ons is sonderlinge en komplekse entiteite. Ons het ons eie bepaalde verledes, eienskappe, en eienaardighede.

Iets van die sensitiwiteit vir die partikuliere aard van mense en dinge word vervat in die Latynse term haecceitas. Hierdie begrip, wat dikwels geassosieer word met die Middeleeuse skolastiese filosofie van Duns Scotus, dui op die kwaliteite wat ’n persoon of objek ’n partikuliere en individuele karakter gee. Dit is moeilik vertaalbaar, maar ons sou dalk kon praat van “dítheid” (haec is die Latyns vir “hierdie”; in Engels dan “thisness”).

Hierdie gedagte van haecceitas word ook geaksentueer in die Victoriaanse en Jesuïtiese digter Gerard Manley Hopkins se “As Kingfishers Catch Fire”: “ . . . Each mortal thing does one thing and the same: / Deals out that being indoors each one dwells; / . . . myself it speaks and spells, / Crying Whát I dó is me/ for that I came.”

Dit is waarskynlik juis hierdie partikuliere gegewendheid, hierdie dítheid van mense en dinge, wat maak dat ons hul skoonheid en veelkantigheid kan herken en vier. Asook waarom ons op ’n spesifieke manier oor die verlies aan ’n eggenoot, ouer of vriend treur.

Wat herinner aan die Franse filosoof Paul Ricoeur wat sy The Course of Recognition (2005) eindig met ’n opmerking van Montaigne wat rou oor sy vriend La Boétie: “As jy my sou druk om te vertel waarom ek hom liefgehad het, voel ek dat ek dit nie kan uitdruk nie, buiten miskien om te sê: Want dit was hý, want dit was ék.” – RRV

Meer oor:  Geestelike Waardes  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.