Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Ontmoet my by die biblioteek’

Die biblioteek is nie net vir lees nie, maar ook ’n kuierplek waar mense van die Kaapse Vlakte vir ’n wyle van die geweld kan vergeet wat dié gebied teister, skryf Willem Fransman jr.

Die skoffelende aanwesiges kappít yt! Foto: Willem Fransman jr.

“Ontmoet my by die biblioteek.”

Dit is die leuse van Wes-Kaapse biblioteekdienste. En dis presies wat verlede Dinsdag 3 September gebeur het.

Senior burgers van twee bejaardesorgorganisasies het by Bellville-Suid se openbare biblioteek ontmoet vir ’n genotvolle oggend van vermaak.

Nie net was 2 tot 7 September nasionale boekeweek nie, maar die biblioteek in Bellville-Suid vier ook sy 50ste verjaarsdag. Vir dáárdie week is daar ook geen boete gehef vir biblioteekmateriaal wat laat ingebring is nie.

En anders as goewerneur Simon van der Stel wat sy verjaarsdag vir ’n week lank gevier het, hou hierdie biblioteek sommer die hele maand van September verjaarsdag.

Die voortslepende geweld op die Kaapse Vlakte wat soms tot op hul voorstoepe oorspoel, was vir ’n aantal ure totaal vergete.

Dit word met ’n sportdag afgesluit nadat ander bedrywighede almal – van die kinders tot die jeug, volwassenes en bejaardes – sal betrek.

Daar sal nog lank gepraat word oor die byeenkoms vir bejaardes waar die immergewilde liedjieskrywer, oompie Albertus Davids (ietsie in die 70’s), en die uwe (self in sy vroeë 60’s) die vermaak vir die dag verskaf het.

Ek het weens twee redes ingestem om op te tree. Die lokaal was juis in een van die biblioteeksale (die huidige rekenaarlokaal) waar my loopbaan as amateur-akteur en performance poet begin het.

Edwina, my vrou, en ek het in 1990 by die legendariese gemeenskapsteatergroep die Cape Flats Players aangesluit. In daardie eenvoudige biblioteeksaaltjie is ons as amateur-akteurs deur die teaterghoeroes, Ivan Sylvester en Peter Braaf, geslyp tot woordkunstenaars en dit is ’n liefde wat tot vandag toe by my is.

Willem Fransman jr.

En tweedens was dit net weer lekker om voor ’n ouer en waarderende gehoor op te tree omdat die meeste van my optredes voor skoolkinders en op kunstefeeste is. Dit bly altyd ’n wonderlike gevoel om voor jou eie gemeenskap op te tree.

Davids het die aanwesiges met sy eiesoortige liedjies vanuit sy geliefde Sutherland vermaak, maar het die gehoor ook herinner aan die immergewilde liedjies van die beroemde Uitenhage-groep, Die Invaders. Dit was egter sy rieldans-liedjies wat van die aanwesiges gedwing het om die gemak van hul stoele vir die dansvloer te verruil.

Al is die lyf nou nie meer so soepel nie, het niks hulle gekeer om ’n bietjie te skoffel of te rieldans nie.

My aanbieding het bestaan uit ’n voordrag van Kaapse Afrikaanse gedigte, ’n lekkerlag-storie en ’n uittreksel uit ’n drama van Adam Small.

Die voortslepende geweld op die Kaapse Vlakte wat soms tot op hul voorstoepe oorspoel, was vir ’n aantal ure totaal vergete. In die gehoor en biblioteekpersoneel se applous en spontane kommentaar was dit duidelik sigbaar dat hulle hul inleef in elke bedrywigheid.

Agterna is daar, soos dit by ’n verjaarsdag hoort, geskenke uitgeruil. Ek het twee boeke oor swart Afrikaanse skryfwerk aan me. Suraya Hassiem, hoof van die biblioteek, oorhandig.

Bellville-Suid se biblioteek en personeel het werklik nuwe betekenis aan die uitdrukking “Ontmoet my by die biblioteek” verleen.

En vandeesmaand sal die publiek genoegsame rede hê om dit te besoek en ’n behoorlike kuier daarvan te maak.

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Willem Fransman  |  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.