Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dana Snyman: Oom Johan en die 3de toets op Boet Erasmus
Dana Snyman

Anderdag swerf ek in die Kalahari se omtes rond, en wonder: Hoekom nie? Ek bel ’n bietjie rond en kry oom Johan de Bruyn se nommer. Bel hom.

“Kom kuier gerus, ou maat,” sê hy, en beduie my die pad na sy plaas naby Reivilo. “As jy verdwaal,” voeg hy by, “vra maar net waar bly die man met die een oog.”

Die volgende oggend, ietsie ná tien, sit ek by oom Johan onder die bome in sy tuin. Dis te warm in die huis. Dis harde wêreld dié. Nes oom Johan. Beesboer. Gewese Springbok-slot. Nét sulke hande.

Ek het grootgeword met die storie van hoe hy glo destyds sy glasoog in ’n toetswedstryd verloor het.

Eers gesels ons droogte en politiek. Toe kom ons by belangrike sake. Rugby. Hy het hier van Reivilo af Springbok geword. Die oog het hy as kind verloor.

“Ek was in Sub. B toe gooi ’n outjie my met ’n kweper. Sommer vir die aardigheid. Toe het ek die oog maar verloor.” Die linkeroog.

Gordon bring die oog vir my, en sê: ‘Is this yours?’ Ek sê vir hom: ‘Ag, f*k jou, man.’

Die storie is waar. Hy het die glasoog in 1974 teen die Britse Leeus verloor. In die Boet Erasmus-sta­dion in Port Elizabeth. Derde toets.

“Dit was ’n rowwe toets gewees daai. Hier in die middel rond toe têkkel ek ’n ou en die oog val uit. Dit was seker maar die ruk gewees.” Hy vryf oor die dooie oog.

“Nou kan ek mos nie aan speel nie. Nou soek ons eers die oog daar. Die Leeus soek saam. Soek, soek, soek ons nou daar op die veld.”

Toe tel Gordon Brown, die een Britse Leeus-slot, die oog op.

“Gordon bring die oog vir my, en sê: ‘Is this yours?’ Ek sê vir hom: ‘Ag, f*k jou, man.’ ”

Oom Johan lag. “Jy wil mos nou nie met ’n Engelsman praat nie, man. Maar ek vat toe die oog. Ek vryf die gras so met die vingers van hom af en sit hom weer in.”

Voor ek weg is, toe skiet ’n ou vir my ’n mooi Springbokram en hy monteer die kop op ’n mooi stuk hout, saam met die oog – daardie einste Port Elizabeth-oog.

Oom Johan bly ’n ruk stil.

“En toe, ’n paar jaar gelede, kry Gordon mos kanker. Ernstig. Op ’n dag bel hier iemand uit Engeland. Gordon vra glo na my. Hy wil my sien. Toe is ek hier oor na die Engelse toe met die vliegtuig.

“Voor ek weg is, toe skiet ’n ou vir my ’n mooi Springbokram en hy monteer die kop op ’n mooi stuk hout, saam met die oog – daardie einste Port Elizabeth-oog.

“Met ’n plaatjie daarby waarop staan: ‘To Gordon Brown from Johan de Bruyn.’ Toe vat ek dit vir ou Gordon saam.

“Hy was so toe al sleg siek. Hy was so dankbaar toe ek dit vir hom gee. Ons was so bly om mekaar weer te sien.” Weer ’n stilte. “Ek was nog daar in Engeland toe is ou Gordon dood.”

Toe vryf en vryf oom Johan weer met ’n breë vinger oor die dooie oog.

“Hierdie oog van my raak mos sommer so aan die traan.”

Oom Johan verjaar vandag. Hy word 70. Baie geluk, Oom. Hoop dit reën mooi vanjaar daar by Oom-hulle in die Kalahari.

Meer oor:  Johan  |  Dana Snyman  |  Rugbywedstryd  |  Oog  |  Ram  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.