Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Oomblik van heiligheid as pa sy seun onthou

‘Jip, ou Nico. Die buskruit was nat vandag. Maar ons sal luister vir jou fluistering in die windjie langs die kampvure en tussen die sonneblomme.”

Dit was vriend André Grobler se Facebook-inskrywing presies ’n jaar nadat sy en Rhoda se seun Nico (16) in ’n ongeluk buite Jacobsdal dood is. Nico was ’n leerling aan die Hoër Landbouskool hier, waar sy boetie, Rohan, ook skoolgaan.

Ek dink aan dié roerende inskrywing toe André Saterdag laatmiddag ’n kers langs Nico se foto in die berghut op Zeekoegat aansteek. Die foto van ’n peinsende Nico in sy jagbaadjie is hier geneem toe pa en seun ’n paar dae hier uitgespan het.

Dis ’n naweek om op die ou ribbok- en blesbokpaadjies te stap waar hulle ’n paar wintervakansies kom kampeer en kom jag het. Om te onthou en te dink. Die son het geel geval deur die ou Engelse kerkie in Rouxville se venster wat ons in die berghut se westelike klipmuur ingemessel het.

André is met sy geleerde Duitse korthaar-jaghond hier en ek het twee terriërs en die nuwe Italiaanse windhondjie saamgebring wat die veld ywerig verken.

’n Storm was aan die opbou. Die wolke het swaar en donker agter die berg om getrek en is met ’n gedreun noord, waar dit begin blits en die reën grys oor Wolwekop begin uitsak het. Brie, die jaghond, het haar kop gelig en oor die veld getuur. ’n Veldvoëltjie het tjie-tjie-tjie onder ons koers gekies na skuiling.

Die oomblik voordat die son rooi oor Strydpoort se dam gesak het, was helder en stil.

Ons gooi toe van die lekker wildswors op die kole en skink ’n whiskey op dié mooi, hartseerdag. Die berg het grasgroen in die laaste lig gelê ná die reën.

Die oomblik voordat die son rooi oor Strydpoort se dam gesak het, was helder en stil. Ek het gedink aan die laaste keer toe hulle hier was. Ons het die middag op Vogelfontein na iets vir biltong gaan soek.

Ek en Nico is in ’n kloof agter ’n ribbok aan. Dit was ’n koue wintersmiddag. Die ribbokke het voor ons tussen die bloubosse en olienhoutbome teen die berghang bly koes.

Ons is vir ’n uur of twee agter die bokke aan sonder om ’n woord te sê. Bo-op die berg kon ons afkyk op die veld en ou huis tussen die bloekoms wat in die grys skemerte begin wegraak het. Verder op in die droë loop het André en ander jagters aangestap en ’n kolgans in die gronddam opgejaag.

Ons wou praat oor die tussenruimte tussen wêrelde waar iemand ná die dood kan vertoef. Maar dit was onnodig. Hier, in dié heilige oomblik, is jy ontsettend naby aan ’n geliefde soos ’n seun wat altyd aan jou sy was in die veld, het ek geweet.

Hy onthou een aand in die berghut toe die volmaan oor die berg opgekom het, het André vertel, en die veld oorvloei is deur die skitterende, helder lig en pa en seuns dit saam kon beleef. ’n Intense, perfekte oomblik.

Meer oor:  Pa  |  Seun  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.