Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ouma is soos roosgegeurde Vinolia-seep

My ouma is ’n koekie roosgegeurde Vinolia-seep. Haar geur hang die hele huis vol. Nes die rose wat destyds gepryk het teen die draad langs haar huis toe ons nog kinders was en sy die beeste en perde uit haar tuin kon verjaag het.

Maar nou is daar niks. Die roosbome is weg – dis net die kaal grond wat daar lê.

Van die terpentynbome in die agterplaas het oor die jare hul takke verloor, en die voortjie met die yskoue bergwater loop ook nie meer daarlangs verby nie.

Die pruimbome maak nie meer skadu’s teen die huis se agtermuur nie, en al wat oorbly van die wingerd, is die smag na soet druiwekorrels wat in jou kies dans.

My ouma is ’n koekie roosgegeurde Vinoliaseep. En hoe ouer sy word, hoe stywer en stywer kleef die geur my vas.

Haar huis is pynlik skoon – sy maak skoon soos ’n vrou wat wil vergeet. Van die seer van alleenwees terwyl haar koue tee op die kombuistafel staan en wag. Sy staan en was nie meer wasgoed in die wasgat teen die draad agter die huis nie, en die hoenders wat op ’n tyd daar rondgeloop het, het jare gelede al hul laaste eiers gelê.

My ouma is ’n koekie roosgegeurde Vinoliaseep, maar die seep kon haar nie jonk hou of die jare agter haar rug verbloem nie.

Ons kuier en bak vetkoek in haar kombuis. Dieselfde kombuis waar ek kaalvoet onder haar vlerk geleer het om brood te knie; waar ek verwonderd en ongeduldig voor die stoof gestaan en wag het vir die goudbruin brood en beskuit om uit die oond uit te kom.

Voor sy besluit het ek moet by my ma in die Kaap gaan bly om Engels te leer. Ek staan vir ’n oomblik teen die wasbak stil. Die einste wasbak waar hoeveel hoenders onder haar hande in vuurwarm water hul vere verloor het.

My ouma is ’n koekie roosgegeurde Vinoliaseep, maar die seep kon haar nie jonk hou of die jare agter haar rug verbloem nie. Elkeen het sy eie merk gelaat, om haar oë, om haar glimlag, op haar hande, in haar stem.

In my kop speel ek weer op die ouland oorkant haar huis. En kruip weg agter die muurtjies wanneer ons kasterolie moet kry. Ons vang weer voëltjies in die wip langs haar groentetuin.

Vandag, lánk ná die wip vir ewig gaan lê het, hoor ek steeds die haan op ’n koue wintersoggend kraai en my ouma se gewoel in die kombuis om die koolstoof aan die gang te kry; ek voel steeds die warmte teen my vel wanneer ons binnestap en sy gereed staan om ons in ’n kom warm water voor die stoof te was.

Ek weet sy het met die Engels goed bedoel, maar ek wens sy het anders besluit. Want my hart klop steeds daar, daar in die modder- en stofstrate met ’n warm vetkoek en kettie in my hand. Net daar, saam met my ooms langs die gellieblik en ’n vuur wat hoog brand.

My hart verlang na ’n dorpie in die Boland, met sy sneeuwit NG kerk en die naam hoog teen die berg in die agterkant.

’n Deel van my het saam met my voetspore net daar in my ouma se tuin bly lê.

Meer oor:  Millinah Omotola  |  Ouma  |  Herinneringe  |  Koekie Seep  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.