Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Pap wiel en ’n ma se verlange na haar seun

Die twee van ons kyk verlig na waar die naderende stofwolk in die verte opslaan. Aan die dreuning kan ons hoor dis ’n groterige ryding, moontlik ’n gesin wat met die R27 langs op pad Upington toe is, want hier waar ons nou is, het die Here net sy genade agtergelaat.

Die vrou lyk bang, en ek voel verleë. ’n Halfuur vroeër het ek langs haar stilgehou op dié agterpad buite Brandvlei in die Karoo.

Nou sit ek op my knieë in ’n tevergeefse poging om haar pap wiel met die noodwiel om te ruil. Ek weet nie regtig hoe nie.

In ’n stad sou ek dit beslis nooit waag om ’n vreemdeling teen dusketyd langs die pad te help nie, maar sy het byna verwees gelyk langs haar ou Hilux-bakkie. Haar oorlede man, sê sy, het jare lank in dié geweste met skape geboer.

Die bakkie lyk dalk soos ’n skorokoro, maar sy verseker my dat daar meganies niks met hom skort nie. Daar is 224 000 km op die klok en sy kry nog al haar draaie gery.

Die twee van ons praat aanvanklik net die nodige, want aan haar bewende rimpelhande kan ek sien dat sy vreesbevange is. Bang vir my, en eintlik banger vir die situasie. Kort-kort vee sy haar swetende hande teen haar flennierok af. As ek moet raai, sou ek sê sy’s al diep in haar 70’s.

Hierdie wêreld is nie meer veilig vir ’n boervrou nie, vertel sy, maar sy brei nie daarop uit nie.

Hierdie wêreld is nie meer veilig vir ’n boervrou nie, vertel sy, maar sy brei nie daarop uit nie. Ek vra ook nie, want ek het nie woorde nodig om te weet wat sy bedoel nie.

Sy hou elke beweging dop: Hoe ek sukkel-sukkel die wielmoere antikloksgewys met die wielsleutel draai, en daarna hoe ek die slinger probeer draai om die domkrag op te hys tot die bakkie behoorlik opgelig is.

Toe vra sy waarheen ek op pad is, en hoe oud ek is. O, sê sy, ek is haar jongste se petuurs. Hy het ook ’n belangrike werk in die stad, en nee, hy kry nie eintlik meer kans om in dié verlate deel van die Noord-Kaap uit te kom nie.

In die afgelope week het sy hom twee keer probeer bel, maar hy’t nie geantwoord nie en ook nie teruggebel nie. Vergaderings, seker.

In die afgelope week het sy hom twee keer probeer bel, maar hy’t nie geantwoord nie.

Eintlik is ek baie soos hy, reken die tannie. Haar seun se oë trek ook so op skrefies wanneer hy lag.

Teen dié tyd is alles vol stof, en net toe ek regtig nie meer weet hoe om die tannie uit haar penarie te help nie, hou ’n ryding langs ons stil.

Ek wil-wil nog verduidelik wat fout is, maar die tannie spring my voor en voor ek weet, staan iemand anders met die moersleutel in sy hande.

Oomblikke later is die vreemdeling alweer pad-op. Ek en die tannie staan nog vir ’n moment of wat beteuterd rond.

“Dankie, seun,” sê sy waarna ek my hand uitsteek om haar beleefd te groet. Toe glimlag sy en gee my ’n stywe drukkie.

As ons die son sien sak het, kon dit moontlik ’n oomblik wees wat ons vir die res van ons lewe kon onthou as die Dinsdagmiddag toe sy haar seun in my oë gesien het.

Ivor Price is ’n joernalis en aanbieder van Landbouweekliks op VIA.

Meer oor:  Ivor Price  |  Vrees  |  Seun  |  Misdaad  |  Ma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.