SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Paulus leer ons volwassenheid
Elmarie Dercksen

Adulting is soup, and I’m a fork.

Een van die oulike grappies waarmee millenniërs hul ontnugtering met die grootmenswêreld te kenne te gee. Dis inderdaad waar: uit ’n (hopelik) beskermende ouerhuis moet ’n mens die wye wêreld in. Dit terwyl jy dalk voel jy weet nie heeltemal wat jy doen nie; jy wens jy kan ’n lang vakansie vat soos toe jy ’n kind was, net roomys eet en TV kyk.

Volwassenheid is vir die meeste van ons ’n uitdaging. Gelukkig verseker die kenners ons dit is nie ’n prys om te wen nie, maar ’n lewenslange reis, met vele klein oorwinnings en mislukkings langs die pad.

Dit het my die afgelope tyd laat dink en lees oor geestelike volwassenheid. Wat beteken dit om geestelik volwasse te wees? Het dit uitstaande kenmerke? Of moet jy maar net dissipel wees en probeer groei? Ek moet erken ek het ook bekommerd geraak hier teen die einde van die jaar, oor myself en my mense, en of ons hoegenaamd bewus is van die mate van volwassenheid wat van ons verwag word.

Dit was ’n moeilike jaar: ekonomiese verval, droogte en ’n politieke gemors wat maar net nie wil draai nie.

Dit was ’n moeilike jaar: ekonomiese verval, droogte en ’n politieke gemors wat maar net nie wil draai nie. Groot debatte op die kerk- en die markplein laat sommige mense warm onder die kraag, maar vir ander laat dit apaties. Hoe behoort ons te dink en op te tree in hierdie moeilike tye? Dit voel inder-daad of die lewe sop is, maar ons bly honger met net vurke as eetgerei.

Dié vrae het my laat kortpad vat na Paulus en sy brief aan die Filippense. Seker omdat geestelike volwassenheid ’n belangrike tema in die brief is. Boonop is Paulus self ook al gevorderd in jare en ervaring wanneer hy dit skryf. ’n Paar belangrike punte:

  • In hoofstuk een bid hy dat die gelowiges se liefde sal toeneem in begrip en aanvoeling. Hy wys hulle op die wonder van onderskeidingsvermoë. ’n Mens is veronderstel om saam met die Heilige Gees te besluit wat op ’n spesifieke moment regtig belangrik is. Ons behoort te kan onderskei wanneer om toe te tree tot ’n geveg, en wanneer om eerder stil te bly;
  • In hoofstuk twee wys hy op die selfopofferende voorbeeld van Christus, en hoe ons dit as patroon vir nederig-heid moet gebruik. Om ander mense te dien en eerste te stel, is geestelike volwassenheid;
  • In hoofstuk drie herinner hy ons dat almal se lewens swaarkry bevat. Ons het nie ’n waarborg daarteen nie (en dit sou kinderagtig wees om te verwag dat dit met mý nét goed mag gaan). Ons het egter ’n voordeel: Ons word nog meer deel van Christus deur lyding, en ons het ook hoop dat ons sal deel in sy opstanding en vreugde;
  • Ook in hoofstuk drie deel Paulus ’n wonderlike taktiek vir volwasse word: maak jou los van wat agter is, en strek jou uit na wat voor is. Vergewe wat in die verlede is. Spreek die mense vry wat jou laat swaarkry het, asook jouself. Almal wat geestelik volwasse is, het hierdie gesindheid;
  • In hoofstuk vier, soos dwarsdeur die brief, onderstreep Paulus dat blydskap ’n keuse is. Hy skryf uit die tronk. Maar vreugde in Christus is oral te vind. En hoewel ons bekommernisse het, het ons ’n Vader by wie ons kan afpak en by wie ons kan vrede vind; en
  • Paulus herinner ons dat ons kan kies watter gedagtes ruimte beslaan in ons koppe: Alles wat goed en opbouend is, daarop moet ons ons gedagtes rig. ’n Geestelik volwasse mens kan kies om nie aandag te gee aan negatiewe dinge nie, selfs al is ons bewus daarvan. Dit maak ons nie naïef nie, dit beteken ons is konstruktief besig om te wees wie ons moet wees: ligdraers in die wêreld.

Niemand anders het meer hoop, meer rede tot blydskap, meer selfbeheersing, of meer wysheid nie. Lyk vir my hierdie is my lepel vir sop eet.

  • Ds. Elmarie Dercksen is leraar van die NG kerk Bloubergstrand.

Meer oor:  Elmarie Dercksen  |  Misdaad  |  Politiek  |  Geloof  |  Moeilike Jaar  |  Jaar  |  Verlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.