Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Pynappel-moordenaar en die boodskapper van die gode

Hy het hom bevind in ’n karikatuuragtige, lomp omgang met ’n toestel wat dikwels eerder met vroue geassosieer word, skryf Murray La Vita oor die era van die tikmasjien.

Murray La Vita in 1987 agter sy tikmasjien. Hy was 'n misdaadverslaggewer by die middakgkoerant "Transvaler" in Pretoria-Wes. Foto: Verskaf

Ek kyk na ’n foto van myself as jong man wat agter ’n lessenaar sit. Ek het kort hare en ’n baard en is geklee in ’n denim dungaree (dit staan in Afrikaans bekend as ’n skouerbroek of werkbroek) en ’n grys hemp.

Links van my is ’n botteltjie Richelieu-brandewyn en ’n blikkie Coke. Aan die regterkant is rook sigbaar. Dit styg op van ’n Gauloises-sigaret wat in ’n asbakkie neffens ’n swart telefoon lê.

Dit is die jaar 1987. Ek is ’n misdaadverslaggewer by die nou reeds lank vergane middagkoerant Transvaler in Pretoria-Wes. En ek sit agter ’n tikmasjien en is besig om met twee vingers te tik – waarskynlik ’n verslag oor ’n moord of ’n ongeluk. Dit kan ook wees dat ek met my weeklikse misdaadrubriek Warm op die spoor besig was.

My verhouding met tikmasjiene het nie goed begin nie want ek het nooit behoorlik leer tik nie.

Te oordeel na die lig wat by die venster inkom van Mitchellstraat se kant af, is dit nog dag.

Ek weet nie of die besige straat nog Mitchellstraat heet nie, maar dit is die straat wat gelei het na die polisiekollege met sy kroeg (was dit in die sportklubhuis met die naam Aloepark?), Weskoppies- psigiatriese hospitaal, Yskor en ’n lieflike viswinkel waar ’n foto van Mohammad Reza Pahlawi, die elegante afgesette sjah van Iran, gehang het.

Ek verbeel my daar was ook ’n slagpale in die omgewing. En natuurlik die Western Hotel op ’n hoek twee blokke van ons kantoor af. Dit het onder joernaliste bekend gestaan as Die Hoekie – wat ’n gek eufemisme as ’n mens in ag neem wat alles daar gebeur het.

’n Moeilike verhouding

Aan hierdie foto het ek gedink toe daar onlangs, op 23 Junie, aan die “nederige” tikmasjien hulde gebring is. Volgens die webwerf Days Of The Year is die eerste tikmasjien “in 1575 bedink maar die eerste gebruikersvriendelike een het eers in 1895 beslag gekry”.

My verhouding met tikmasjiene het nie goed begin nie want ek het nooit behoorlik leer tik nie. Daarom dus dat ek op die swart-wit-foto stip (en effens idioties) afkyk na die wysvinger van my regterhand wat tentatief na ’n sleutel mik. As ek die status van die verhouding op Facebook sou moes beskryf, sou dit wees: It’s complicated.

Tydens my joernalistiekkursus aan die Universiteit Stellenbosch was daar wel die geleentheid om dié tegniek baas te raak, maar ek kón eenvoudig nie. Ná twee weke in die tikklas van die moedige (maar mettertyd stroewe) mev. Leona Amoraal het ek opgehou om die klasse by te woon. Dieselfde geld snelskrif.

So, nee, u lees nie nou die relaas van iemand wat terughunker na die goeie ou dae van tikmasjiene nie.

Uit my beskrywings kan u agterkom dat die era van die tikmasjien vir my nie ’n romantiese een was nie en dat hierdie nie ’n nostalgiese mededeling is nie.

(Ek kan terloops noem dat daar lank voor my toetrede tot die joernalistiek by ’n Afrikaanse dagblad in die Noorde iets dramaties gebeur het met betrekking tot tikmasjiene. Joernaliste wat glo so boos was oor die tikmasjiene wat so dikwels gebreek het, het hul masjiene by die kantoorvensters uitgegooi. Tikmasjiene is daarna met kettings aan die lessenaars vasgemaak.)

So, nee, u lees nie nou die relaas van iemand wat terughunker na die goeie ou dae van tikmasjiene nie. Ek het my bevind in ’n karikatuuragtige, lomp omgang met ’n toestel wat dikwels eerder met vroue geassosieer word. Tiksters was immers hoofsaaklik vroue. Neem byvoorbeeld tannie Chico Erasmus, die vurige vroutjie (sy was petite van postuur) wat sekretaresse was van kol. Panga van der Linde, die bevelvoerder van die seinregiment waar ek in my tweede jaar van diensplig as adjudant gewerk het. Tannie Chico se vingers kon skouspelagtig lig en vinnig dans oor die sleutels van ’n elektriese tikmasjien terwyl sy geheime dokumente die lig laat sien het. Sy was ’n artieste.

Die pynappelmoordenaar

Min geluide kan die sfeer van dringendheid so goed en dramaties vasvang as dié van ’n aantal tikmasjiene wat kort voor ’n spertyd in ’n koerantkantoor in aksie is. Benewens die masjiengeweeragtige klank van sleutels wat geslaan word, is daar die sagter geluide van die velletjies papier wat vinnig uit die masjien gepluk word wanneer ’n storie klaar is.

Ons het op A5-groote pienk papier getik – twee velletjies met deurslagpapier in die middel. Ek het nou nog vier van daardie velletjies wat met ’n speld vasgesteek is. Dit is ’n “storie” wat ek een dag op kantoor geskryf het toe daar nie veel aan die gang was nie – ’n fiktiewe misdaadstorie; die verslag oor die bedrywighede van die pynappelmoordenaar, ’n wrede psigopaat wat mense in Pretoria se Burgerspark voorgelê het en met ’n pynappel doodgeslaan het.

In die faksimilee-uitgawe van "Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman", kan ’n mens sien hoe lyk Etienne Leroux se tikwerk. Foto: Murray La Vita

Ek het tuis my eie tikmasjien gehad waarop ek ook stories geskryf het, byvoorbeeld: ’n Man stel ’n muisval en word in die nag deur sy vrou wakker gemaak. Sy het ’n gekerm uit die kombuis gehoor. Die man gaan na die kombuis waar hy ’n wriemelende muisie in die val aantref. Die res van die storie kan ek nie met u deel nie, ek weet nie wat my besiel het om dit destyds te skryf nie. Die einde is nie gelukkig nie.

Waar ek hier op my skootrekenaar sit en tik, is ek al (ná al die jare) ’n ietwat meer bedrewe tikker – steeds met twee, soms drie, vingers, maar meer vlug. Beslis egter nie naastenby so vlug van hand soos wat wyle André P. Brink met twee vingers was nie.

Madeleine van Biljon (ook nou al dood) het my op ’n keer vertel hoe sy haar kon verkyk aan die spoed waarmee Brink met daardie twee lang, sensitiewe wysvingers van hom kon tik.

Die laaste tikmasjien waaraan ek u wil herinner, is die een waarop Etienne Leroux getik het. ’n Voorbeeld van die meester se tikwerk kan ons sien in die faksimilee-uitgawe van sy onvoltooide twaalfde roman, die “surrealistiese, hipermoderne” satire Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman.

Dit is op ’n Hermes-tikmasjien getik. En Hermes is, soos u weet, die boodskapper van die gode.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.