Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Rassie maak ons van voor af deurmekruis

Ja-nee, ou swaer, en net toe ons begin dink hoeveel beter dit met ons rugby gaan vandat NAN (Naas, Ashwin en Nick) nie meer op die kassie vir Ploetersport is nie, struikel die Bokke maar weer.

Blouwillem

En daar is ons terug in ons aarselende, kleingelowige vertwyfeling oor die toekoms van ons toenmalige nasionale tydverdryf.

Ek en my ou maters was later so depressief ons het in ’n stadium daar voor die kassie amper vir Eksdom gebel om vir ons beurtkrag te reël.

Dik Daan reken ou Rassie, wat Bokkleure soos tjoklits op ’n kinderpaartie uitdeel en met elke toets ’n proefneming of ses pleeg, gaan homself en ons almal van voor af deurmekruis maak.

“Dink só daaraan,” verduidelik Daan: “Jy kry pille by Oudok vir hoë bloeddruk, ander vir jou hemelhoë pap-en-kaiing-cholesterol en ’n derde vir jou lastige brandsooi, en skielik gee die drie saam jou hoofpyn.

“Jy los dan al drie en die hoofpyn is weg, maar hoe de ongeluk weet jy nou watter een (of dalk twee) het jou die hoofpyn gegee?”

En dat die coach nou ’n paar pille het wat hom ’n hoofpyn moet gee, dié is seker. “Moet Rassie nie dalk nou maar sy diskoligte op die stadions se dakke terugbring nie?” wil neef Bartel weet.

En so van beurtkrag gepraat – daar is mos deesdae vir elke ding ’n kans om sommer so op jou selfoon oor iets te kan stem.

So kom die vraag laasweek: Wat doen jy as daar saans beurtkrag is?

Die opsies om van te kies:

  • Ek gaan slaap vroeg.
  • Ek raak kwaad en skink sommer nog ’n glas wyn.
  • Ek het ’n kragopwekker, so dit pla my nie.
  • Ons gebruik dit as gesinstyd.
  • Ek steek ’n kers op en sit en lees heerlik aan ’n boek.

Oom Johnny sê toe hy kies sommer ’n kombinasie-opsie.

“Gesinstyd is uit, want almal is uit die huis uit, so ek steek ’n kers aan, maar my oë is te swak vir lees, dan skink maar eerder vir my wyn totdat die kers doodgaan, gaan kruip dan vroeg in die kooi en lê en luister na my buurman se generator totdat die slaap my oorval.”

Of die stembrief oor die hoë prys van drank. Die vraag was: Drank raak jaar ná jaar al hoe duurder.

Koop jy nou minder alkohol?

Met die opsies:

  • Ja, want die lewe raak net te duur.
  • Dit raak my nie, want ek is ’n geheelonthouer.
  • Nee, want ek het ’n drankie aan die einde van elke dag nodig.
  • Ek koop nou net vir spesiale geleenthede soos ’n verjaardag of huweliksherdenking drank.

Dik Daan sit toe maar sy eie opsie by.

“Ek het besluit ek sal minder moet drink en gaan nou maar net naweke, saans en op openbare vakansiedae drink en meer geheelonthouers kry om saam met my rugby te kyk.”

Meer oor:  Blouwillem  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.