Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Rian: Deel gerus jou skatkis vol kennis

’n Gesprek met Imtiaz Sooliman het Rian van Heerden laat wonder of hy, én ander Suid-Afrikaners, genoeg doen om hul medemens te help.

Rian van Heerden

Ek het al met baie mense in my lewe onderhoude gevoer en dit gebeur maar min dat ’n gesprek met iemand my sprakeloos laat.

Ek het gesels met ’n persoon wat my Suid-Afrikaners in ’n heeltemal ander lig laat sien het. Sy naam is Imtiaz Sooliman en hy is die stigter van Gift of the Givers, die organisasie wat die afgelope 25 jaar hulp van R2,1 miljard in 43 lande verleen het.

Dit is dieselfde man wat by die mees onlangse gradeplegtigheid by Kovsies ’n toespraak gelewer het en toe op sosiale media deur regses uitgekryt is as die “Moslem” wat dit durf waag het om by ’n “Afrikaanse” universiteit te gaan praat. In die einste Bloemfontein, terloops, is Yolande Korkie woonagtig, wie se vrylating deur Al-Kaïda deur Imtiaz moontlik gemaak is.

Hy het ook daarvoor gesorg dat Stephen McGown ná ses jaar as gyselaar in Mali na sy familie kon terugkeer.

In Beaufort-Wes het hy gehelp met ’n suksesvolle soektog na water en in Knysna het hy gehelp om bye te red.

Vir hierdie man is net een ding belangrik: Sy medemens.

Imtiaz is altyd beskikbaar. Altyd.

Ek het verstom geluister hoe Imtiaz vertel sy kinders het hom een aand oor sy afwesigheid aangespreek. Imtiaz het aanvanklik nie verstaan waaroor dit gaan nie, want hy was tog gereeld oor daardie tydperk by die huis.

Hulle moes hom toe daarop wys dat hy vir ses weke nie met een van hulle gepraat het nie!

Jy sien, hy skakel nooit een van sy drie fone af nie. Imtiaz is altyd beskikbaar. Altyd.

Tydens ’n reis na Turkye as ’n jong dokter het ’n geestelike leermeerster, Mohammed Saffer Effendi al-Jerrahi, vir Imtiaz ’n opdrag gegee: Stig ’n organisasie. Noem dit “Gift of the Givers” en dien mense van alle kleure, kulture, godsdienste en klasse.

Vir hierdie hulp sal jy niks in ruil aanvaar nie. Nie eens ’n dankie nie. En so het Gift of the Givers en Imtiaz se roeping begin.

Suid-Afrikaners kan gerus Imtiaz Sooliman se voorbeeld volg. Foto: Elizabeth Sejake

My gesprek met Imtiaz het my weer laat wonder oor die bystand wat ons veronderstel is om te lewer. Gee ons iets wanneer die kollekte opgeneem word in die kerk en voel gerus dat dit uiteindelik iewers ’n mede-Suid-Afrikaner sal help, of rol ons self ons moue op en doen eerstehandse kennis op oor waar hulp nodig is en wat ons daaromtrent kan doen?

Want ek kan jou waarborg, jy hoef nie ver te soek nie.

Daar sal natuurlik altyd mense wees wat die argument sal opper dat hul inkomste maar beperk is of dat hulle eerder nader aan die huis wil help (“hul eie mense”) as wat hulle mense bystaan wat hulle sien as vreemdes (al is hulle mede-Suid-Afrikaners).

Ek voel egter dat daar een ding is wat ons almal kan en moet deel – kennis.

Elkeen van ons het kennis in ’n spesifieke veld of op ’n spesifieke gebied. Ons klou ongelukkig verbete aan hierdie kennis in die vrees dat iemand dalk wat ons opgegaar het, sal afneem.

Ons sien daagliks hoe hierdie absolute verset teen die deel van kennis ons land, wat na kennis smag, verder en verder na die afgrond stoot.

Hou op om so vas te klou aan jou kennis. Deel dit met mense wat ook soos jy eendag suksesvol wil wees.

Enigiemand wat byvoorbeeld dink die chaos in ons stadsrade is nie gedeeltelik te wyte aan die verset destyds om kennis te deel nie, lewe in ’n droomwêreld.

Hou op om so vas te klou aan jou kennis. Deel dit met mense wat ook soos jy eendag suksesvol wil wees. Jy hoef ook nou nie al jou geheime weg te gee nie, maar deel darem ten minste genoeg dat iemand ’n loopbaan daarmee kan begin.

Al is dit net een persoon wat nie direk verwant is aan jou nie!

En dit gaan jou niks kos nie.

Inteendeel, dit is ’n ongelooflike gevoel as ’n vreemdeling volg in jou voetspore.

Suid-Afrika het jou kennis nodig. Begin dit asseblief deel so gou as jy kan.

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en ’n radio-omroeper.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.