Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Rian: ‘Dink voor jy die eerste Zuma-klip gooi’

Gierigheid is nie net beperk tot korrupte politici nie. Dit is ’n algemene probleem in Suid-Afrika, skryf Rian van Heerden.

Rian van Heerden

Wat is die wortel van alle korrupsie in Suid-Afrika?

Dis wat dit nog altyd was: gierigheid.

En dit is vir my vreemd dat daar keer op keer met soveel absolute haat en oordeel na staatsamptenare en lede van daai bekende familie van Indië verwys word wat hulle hieraan skuldig maak.

Hoekom? vra jy.

Wel, want ek ken baie min mense wat nie gierig is nie. As jy gierigheid wil sien, hoef jy maar net by enige winkel in te loer waar Lotto-kaartjies verkoop word wanneer die boerpot lekker groot is. Wag gaan jy wag in daardie rye.

Ek was ook een oggend vroeg wakker in ’n casino-hotel en het skuins ná vyfuur in die dobbelsale gaan ronddwaal. En ja, alhoewel ek seker maar so iets verwag het, was ek steeds verstom om te sien hoeveel mense daar steeds daardie tyd van die oggend volstoom aan die dobbel was. Op ’n weekoggend.

Wat is gierigheid en wat is ambisie?

Wel, volgens die definisie van gierigheid is dit die intense begeerte na veral rykdom en/of mag.

Moenie dink dat ’n gierige persoon en ’n korrupte staatsamptenaar veel van mekaar verskil nie.

Wat is ambisie dan? Dis die intense begeerte om iets te bereik. Dis dus relatief eenvoudig As jy aspireer om ’n entstof teen HIV te ontdek is dit natuurlik heeltemal aanvaarbaar. As dit is om ’n biljoenêr te word, lei jy aan ’n intense vorm van gierigheid.

Punt.

Hierdie gierigheid word natuurlik veral deur die Katolieke as een van die sewe dodelike sondes beskou. In Latyn: avaritia. In die Bybel word veral in Lukas 12:15 hierteen gewaarsku en lesers word gewaarsku om te waak teen alle tipes gierigheid.

Ook in 1 Korintiërs 6:10 is daar ’n waarskuwing. Daar het jy dit: Gierigheid is ’n sonde!

Moet ook nooit dink dat jy ooit tevrede sal wees met wat jy het as jy eers ambisie met gierigheid verwar nie.

Moenie dink dat ’n gierige persoon en ’n korrupte staatsamptenaar veel van mekaar verskil nie. Julle albei is agter dieselfde pot goud aan en ek kan jou waarborg dat ’n gierige persoon sal doen wat hy/sy moet om daar uit te kom. Al moet jy iemand beduiwel in die proses.

Ek het juis vanoggend verstom gesit en lees oor ’n skema waarvoor heelparty mense geval het. Hulle het die belofte geglo dat hul geld binne maande met rasse skrede sou toeneem. Natuurlik het byna almal hul geld verloor en die ou wat die skema begin het, sit hoog en droog in Venezuela.

Slim beleggings was dit natuurlik nie. Gierigheid beslis. Nog ’n voorbeeld is natuurlik bitcoin. Soos ’n vriend dit die ander dag vir my uitwys: “So, jy vat geld wat bestaan en ruil dit vir wat nie bestaan nie? Dis mos onnosel of hoe?”

Mense sien lelik hul agterente met daai konsep. Dis nie ’n belegging nie, al vertel wie jou wat op die gholfbaan.

Probeer eerder iemand anders help as net jouself.

Gierigheid.

Moet ook nooit dink dat jy ooit tevrede sal wees met wat jy het as jy eers ambisie met gierigheid verwar nie. Jy sal selfs nie tevrede wees met R10 miljoen nie. Hierna sal jy probeer mik vir R100 miljoen. Vra maar die ouens van Steinhoff.

So wat is die les?

Wel, eerstens, as jou hooffokus is om hierdie wêreld agter te laat as ’n effens beter plek as toe jy hier aangekom het, sal die geld en sukses in elk geval volg.

Die teenoorgestelde van gierigheid is dit vrygewigheid.

Dit is ook natuurlik jou plig om hierdie sukses te deel. Die histories Christelike denominasies erken sewe deugde wat die teenoorgestelde van die sewe sondes is. Vir gierigheid is dit vrygewigheid of dan welsyn . . .

Probeer eerder iemand anders help as net jouself. En moenie probeer wegkruip agter die verskoning dat jy vir jou gesin ’n gemaklike lewe probeer bewerkstellig nie. ’n Gesin kan ook gemaklik bly in ’n drieslaapkamerhuis in Elardus Park.

So as jy juig oor pres. Jacob Zuma se vertrek, dink maar eers voordat jy die eerste klip gooi.

Veral as jy in ’n fênsie glashuis bly.

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en ’n radio-omroeper.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Jacob Zuma  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.