Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Royal weddings’ is nie vir almal beskore nie
Petro Hansen

Prins Harry is helaas van die rak af. So ook my dogters se laaste kans om met ’n prins te trou.

Hul oupa Dries sou in elk geval nie omgegee het nie, want hy was sy lewe lank kwaad oor ’n oorlog waarin Engelse troepe oor die vlaktes van ons land alles wat in hul pad gekom het, afgemaai het.

Van kleintyd af as pa voor die televisie sit en iets oor die queen van Engeland of Di en prins Charles word in ’n nuusberig vertel, sou hy sy koerant op die tafeltjie langs hom optel, diep sug en die koerant voor sy gesig druk. Later in pa se lewe het hy darem vrede met die queen gemaak, maar heng, hy was steeds altyd ekstra bly as die Bokke Engeland op die rugbyveld klop. Pa is seker ook van die min mense wat nie op 29 Julie 1981 vasgenael voor die kassie gesit het toe die koninklike troue van Charles en Diana wêreldwyd uitgesaai is nie.

Ons het die naweek van prins Charles en Diana se troue by oupa en ouma op De Kroon ge­kuier.

Volgens protokol groet ’n mens die koningin as “Your Majesty”, wat dan oorgaan in “Ma’am, pronounced like jam”.

Die winters op Brits en die Bosveldvlaktes is ewe vaal en koud. Ouma het die rooi wolkomberse op die Persiese mat met die mooiste roospatroon in haar sitkamer vir ons kinders oopgegooi.

Op die koffietafel het sy plastiekbakkies met skyfies en lekkergoed uitgesit. Oupa het vir ons Coke aangedra.

Diana se beroemde ivoorkleurige sy-en-tafsy-rok, wat deur David en Elizabeth Emanuel ontwerp is, het my bygebly. Die rok was glo met 10 000 pêrels versier.

Ek is dankbaar dat prins Harry nie meer vir my dogters beskore is nie.

Duisende Britte het met Union Jack-vlaggies in die hand in die strate om die paleis saamgedrom. Fanie, oupa se tuinier, het saam met ons na die groot troue sit en kyk. Fanie het sy kop geskud en gelag: “Die rok is ephela, maar eisj, hy’s lank,” het Fanie gesê toe Diana met ’n 25 m lange sleep al agter haar aan die St. Paulus-katedraal binnestap.

Volgens protokol groet ’n mens die koningin as “Your Majesty”, wat dan oorgaan in “Ma’am, pronounced like jam”. Dit geld almal, selfs Jack Parow, wat sou curtsy en die koningin dalk eerder met ’n spontane “hoe lyk dit, hoe lyk dit” sou wou groet.

Nou ja, al word prins Harry as een van die gewildste prinse beskou omdat hy aantreklik genoeg is vir modelwerk, glo lief is vir kinders, ’n vlieënier is, nes ’n gewone mens lekker op ’n liedjie kan dans, mooi met sy ouma is en by liefdadigheidsprojekte oor die wêreld heen betrokke is, is ek steeds dankbaar dat hy nie meer vir my dogters beskore is nie.

Ek sou seker die high teas met soetkoekies in die paleis geniet het wanneer ek vir die kleinkinders gaan kuier het. Maar die dogters se pa, Afrikaner in hart en bloed, stoere Blou Bul-rugbyondersteuner, biltongliefhebber en ’n man wat sy braaivleis geniet, sou ek nooit kon oorreed om ’n kakielangbroek en leervellies vir ’n swart swaelstertbaadjie, onderbaadjie en das vir ’n royal wedding te verruil nie.

Meer oor:  Petro Hansen  |  Prins Harry  |  Koninklike Troue  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.