Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Rugby op die Vlakte: 'Vat sy voete onne’ hom yt!'

Klubrugby is ’n gelykmaker waar renperd en trekos, arbeider en akademikus almal in dieselfde juk trek, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

Kyk, as daar nou ’n gebeurtenis is wat ’n gemeenskap saambind en trots maak, dan is dit ’n klubrugbywedstryd tussen twee dorpspanne! En as dit nog die buurdorp is, is die uitdaging net nog groter.

So ’n voorreg het my onlangs te beurt geval. My jonger broer, Jan, se seun Marvin speel nou al jare lank as slot vir ons tuisdorpspan en doen nogal taamlik goed in klubrugby.

Kyk, hy is alles wat ek nie in my speeldae was nie. Hy’s vinnig, slim, gróót en sterk! Ek was net slim . . . veral om uit die pad van die groter spelers te bly. En waar ek óm die spelers gesystap het, gaan Marvin sommer dwarsdeur hulle!

Klubrugby op die Kaapse Vlakte het die gewoonte om ’n gemeenskap in ’n hegte eenheid saam te snoer. Dok Daantjie Craven het destyds gesê dat rugbytoetse eintlik volksfeeste moet wees. En vir my is klubwedstryde niks anders as ’n ware gesinsuitstappie nie; amper ’n piekniek.

Want net soos ons ’n rugsak met eetgoed en drinkgoed gepak het, het ons verskeie families met rugsakke en piekniekmandjies gesien. By die hek is alle bottels eers deeglik deur die sekuriteitsmanne oopgemaak en besnuif vir drank, want dit mag glad nie ingebring word nie.

Eenkant hang die reuk van boerewors in die lug. Blykbaar voetlanges wat dáár gebraai word, word gesê. Vlae, serpe en klubtruie van die tuisspan en van die buurdorp wapper in die effense windjie.

Sommer gou het ek en my oudste dogter, Irma, ons plekke op die hoofpaviljoen ingeneem. My seun Edwill en sy gesin en my broer sou nét voor afskop by ons aansluit. Die mense kom eers drupsgewys. Maar toe ons weer sien, is die veld reg rondom toegepak. Geraasvlakke het ook sommer toegeneem!

“Los hom! Vandag gaan sy ding pyn!” (Pyn word as “puin” uitgespreek.)

Vriend en vreemdeling se lywe skuif styf teen mekaar. Hier en daar ontmoet gereelde toeskouers mekaar, vra oor mekaar se welstand uit en kry sitplek. “Ingeprop soos sardientjies in ’n blikkie” kry nuwe betekenis, want party manne en vroue is allesbehalwe klein en skraal!

’n Afkondiging en verwelkoming of twee volg . . . selfs ’n gaskunstenaar wat ’n liedjie of twee sing . . . en toe draf die skeidsregter en die lynregters op. Vir ’n wyle sak ’n doodse stilte oor die mense-massa neer.

Die buurdorp draf eerste op. Die applous is maar so effe-effe. Maar toe die tuisspan opdraf, spring almal op hul voete. Dit fluit! ’n Voetstamp van man en muis volg! En dan klink ’n bulderende mansstem luid bo die skare uit: “Tiere bo!”

Dis soos olie op ’n reeds hoog brandende vuur. Toe begin die aanmoediging vir die tuisspan van vooraf. ’n Geoefende oor sal sê dat die geraasvlakke nou selfs hoër as vroeër was!

Die besoekers skop op my nefie af. Die skare brul toe Marvin ’n perfekte hangbal vat en rug gee. Die Tiere-agttal stu vorentoe. Die skare beur saam. Só wen die partydige skare elke meter saam met hul dorpspan. En sug saam met hulle toe daar ’n fout gemaak word. En toe ’n besoekende speler te geniepsig raak, word bevele gou uitgebasuin hoe om die “rammetjie-uitnek” se nekkie weer vir hom terug te druk!

“Los hom! Vandag gaan sy ding pyn!” (Pyn word as “puin” uitgespreek.) Die tuisdorpskare skree soos ’n spraakkoor dieselfde uitdrukking agterna! Dit raak ’n credo deur die wedstryd elke keer wanneer ’n buurdorp-speler ’n goeie beweging begin.

Ná ’n stort sal hulle ’n skuimkop saam knak in die klubhuis en weer vriende raak!

Die wedstryd is taai en by tye meedoënloos. Vir elke meter wat gewen word, word bloed gesweet. Die buurspan is ewe onversetlik. Gee nie ’n aks mee nie. Veral een van hul spelers – so ’n kort en dikkerige outjie – loop soos ’n stormram onder die tuisdorp se spelers in. As hy met sy stormlope begin, skreeu ’n luide stem reg vóór ons: “Daar gannie Bulldozer alwee’ . . . Keer hom! Vat sy voete onne’ hom yt!” En as dit gedoen word, brul die skare!

As die skeidsregter die eindfluitjie blaas, stap 46 moeë spelers van die veld. Die een as oorwinnaar (die tuisspan) en die ander as verloorders. Ná ’n stort sal hulle ’n skuimkop saam knak in die klubhuis en weer vriende raak! En elke laagvat en drie in besonderhede bespreek!

Maar eintlik gaan dit verder as die span. Klubrugby is altyd ’n gelykmaker. Dis in wedstryde soos hierdie waar ’n renperd én ’n trekos ewe belangrik is! Waar handearbeider én dosent saam in dieselfde juk trek! En dis die gemeenskap wat as wenners uit die stryd tree.

En vir die tuisspan? Wel, hulle het nou spogreg vir ten minste een volle jaar!

* Fransman is voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

Meer oor:  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.