Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Salig is dié wat dier lente tot in hulle murg voel
Wilhelm Jordaan

Op televisie was daar ’n advertensie wat gewys het hoe ’n man vroegoggend op die rand van sy bed sit. Nes hy wil opstaan, hoor jy die moeë knorgeluid van ’n motor waarvan die battery pap is. Die man bly sit, en kry dan opeens lewe as hy ’n sekere vervaardiger se energiedrankie drink.

Dinsdag het die lente amptelik aangebreek, en vir sommige mense is die lente opsigself ’n natuurgegewe opkikker wat bevestig: Al die veld is vrolik, hier galop ’n goggatjie en daarso dans ’n mier! Die gene van boom, blom, blaar en spriet het die tekens van die tye gelees en elkeen laat eiesoortig die lente ontvou. Wat ’n energiedrankie chemies doen, doen die lente vanself.

Bygesê, daar is baie mense vir wie die natuur se ritme niks meer is nie as temperatuurverandering, makliker of moeiliker opstaan in die oggend, baie of min pret in die buitelug, en mét of sonder die verwagting van ’n genotvolle naglewe en jolige naweke . . .

Daarom dan: Salig is hulle wat in die waarneming van nuwe groei met die aanbreek van die lente hul diep vervlegting met die natuur tot in die murg aanvoel. Soos Henry Thoreau dit verwoord in sy Walden: “Shall I not have intelligence with the earth? Am I not partly leaves and vegetable mould myself?”

Iets van hierdie intieme vereenselwiging met die natuur het die digter D.J. Opperman laat skryf: “Kan ek minder as die saad wees, / saad wat lank in duinsand lê / en nie met Bokkebaai tot vygies breek? / Kan ek minder as die voëls wees, / voëls wat lank in melkhoutbome slaap / en nie met spreeus en duiwe en mossies spreek?”

Wat met die koms van die lente gebeur, help ons om ons eiesoortige saad-wees se oopbreek tot ’n blomrykdom te laat gedy.

Wat met die koms van die lente gebeur, help ons om ons eiesoortige saad-wees se oopbreek tot ’n blomrykdom te laat gedy – volgens ’n oënskynlik geringe riglyn: Kyk nuut en maak nuut!

Die Nederlandse digter Herman Gorter roep dit al klinkende uit: “Een nieuwe lente en een nieuwe geluid . . .”

In Sarah Winman se roman When God Was a Rabbit vertel die karakter Elly hoe sy by ’n wyse mens moes leer om nuut na alles te kyk en subtiele verandering raak te sien: “Whenever I declared I was bored he would march me down to the water’s edge and make me describe all I could see in tones of enthusiasm and wonder, until my body again reverberated with the ex-citement of life.”

Wat Elly só beleef, word dan ’n bevestiging dat haar hele wese – lyf en gees – intiem deel van die natuur is en so ook deel is van alles wat gegee is.

Wie seisoenale ritmes só verstaan begin snap hoe dit wat baie groot is (die aarde, sterre, sonne, die uitdyende kosmos) en dit wat klein is (partikels, atome, stringe, kwarke, gene, beendere, klippe, mense, blomme, plante, bome) ’n weefpatroon van fyn verbondenheid vorm. Só verstaan word die lente ín en óm jou ’n lushof.

Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Murg  |  Lente  |  Seisoene  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.