Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Selfs midde-in die dood is ons van die lewe omring

Met die Latynse woorde vita in morte sumus begin ’n Gregoriaanse gesang wat sedert die Middeleeue welbekend geraak het. “Midde-in die lewe is ons van die dood omgewe.”

Hierdie lied is in die kerklike liturgie benut en is ook dikwels gesing as ’n hulproep tot God in tye van openbare nood.

Die kerkhervormer Martin Luther het dit in 1524 in Duits vertaal en verse toegevoeg. ’n Mens kan jou nogal indink hoe dit gesing is toe die plaag in 1527 in sy tuisdorp, Wittenberg, uitgebreek het.

In die Anglikaanse Book of Common Prayer het ’n vertaling weer deel gevorm van die begrafnisrite, beginnende met die woorde “In the midst of life we are in death.”

Hierdie openingsreël benadruk die feit dat ons selfs in die lewe nooit ver van die dood af is nie, ’n gedagte wat nie vreemd aan die Middeleeuse lewensgevoel was nie.

Die huidige Covid-19-pandemie mag dalk ook meegebring het dat die dikwels abstrakte wete dat die dood midde-in die lewe teenwoordig is, op ’n meer bewustelike manier vir baie van ons ’n werklikheid geword het.

In Leo Tolstoi se diepsinnige en veelbesproke novelle Die dood van Iwan Iljitsj lees ons iewers hoe ’n sterwende Iwan terugdink aan wat hy in ’n boek oor logika geleer het: “Caius is ’n mens. Mense is sterflik. Daarom is Caius sterflik.”

Die gedagte dat Caius, en dus die mens in die algemeen, sterflik is, is vir Iwan heeltemal logies en korrek. Maar, voeg hy by, hy is nié Caius en nié ’n mens in die algemeen nie; hy is uniek en anders.

Wat, vra Iwan dan ook, weet Caius van sy kinderjare, van sy ma, van die reuk van die gestreepte leerbal waarmee hy graag as kind gespeel het? Het Caius soos hy lief, en kan Caius doen wat hy kan doen? Dit is reg dat Caius sterflik is, maar dat hy, Iwan Iljitsj, met al sy gedagtes en emosies, sterflik is, dít is ’n verskriklike gedagte.

Die feit dat dit óns is wat midde-in die lewe deur die dood omring word, om by Tolstoi en die Gregoriaanse gesang aan te sluit, konfronteer ons eerlik met ons eie kwesbaarheid en sterflikheid. Dit is ’n nodige insig.

Luther het hierdie insig nog verder geneem. Hy het – gegewe sy Bybelse geloofsperspektief op die aardse dood vanuit Christus se opstanding – die Middeleeuse monnike-lied se openingswoorde ook omgekeer.

Nie net is ons “midde-in die lewe deur die dood omring nie,” maar ook “midde-in die dood is ons van die léwe omgewe.” – RRV

Meer oor:  Geestelike Waardes  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.