Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Skryf só saam aan die nuwe jaar se oop teks
Wilhelm Jordaan

Nog in die voorportaal van die nuwe jaar is dit miskien nuttig om bestek op te maak van Nuwejaarsverwagtings – met ’n bietjie meer erns as die gebruiklike stuitige wenslysies en buitensporige of vae voornemens.

Drie soorte verwagtings val op: Eerstens, dat alles slegter sal word in 2020. Dit spreek van ’n uitsiglose pessimisme wat gedra word deur die gedagte dat jy nie die wêreld gemaak het soos dit nou is nie, en daarom kan jy niks doen om dit beter te maak nie. Die toekoms is só donker dat jy nie eens glimlag oor die grappie dat ons parlementariërs, oogkundig gesproke, die toets vir normale 20:20-visie gedruip het en gevolglik 2020 kortsigtig aandurf nie!

Die gevaar van so ’n verwagting is dat dit ’n lewenstyl raak wat al jou doen en late kenmerk. Alles word in die fynste besonderhede somber.

Sulke mense trek mekaar soos magnete aan. En hul individuele pessimismes word saamgevoeg tot ’n soort warmbroeiery, ’n swartgalligheidskultus en die gesamentlike afwagting van die ergste.

’n Tweede verwagting is dat dinge in 2020 hopelik nie slegter sal wees as in 2019 nie. Onderliggend daaraan is ’n leë, daadlose optimisme waarin daar min begrip is vir wat jý moet dóén om te sorg dat dinge sigbaar beter word eerder as “nie slegter” nie.

’n Derde verwagting is dat 2020 hoogstens ánders gaan wees.

Wat kom daar uit sulke verwagtings?

Dit beteken jy verwag eintlik niks van die nuwe jaar nie – dat jy onbetrokke op ’n afstand die Suid-Afrikaanse lewensdrama gaan beskou; met jou hande gevou. Niks gaan jou werklik opgewonde maak of teleurstel nie. Jy is ’n buitestander.

Wat kom daar uit sulke verwagtings? Miskien moet ons die insig hê dat ons almal beurtelings heen en weer van die een na die ander verwagting steier soos wat die politieke winde waai en samelewingsellendes, saam met eie teleurstellings, ons tref.

Soms is ons reddeloos pessimisties en glo vas niks sal ooit beter word nie. Soms rigtingloos optimisties in ons gevoel dat dinge nie slegter kan word nie. En soms is ons buitestanders wat eintlik niks van die lewe verwag nie.

Dié insig oor ons verskeurdheid oor die toekoms help miskien om ons tot ’n vierde soort verwagting te bring – dat ons die lewe (ook 2020) kan beleef as ’n “oop teks” waarvan ons die medeskrywers is.

Dit laat toe dat jy deur volgehoue deelname aan die lewe gestalte kan gee aan ’n toekoms, aan ’n nuwe jaar. Dat die woord “nuut” kragtige betekenis kry in jou doen en late op eie werf.

Waar “nuut” dan beteken dat jy, met behoud van ’n kritiese perspektief, moontlikhede raaksien en ontdek wat jy nie vroeër raakgesien of van bewus was nie – in jou verhoudings met ander, in jou werk en in jou deelname aan die gemeenskapslewe . . .

Help só skryf aan 2020!

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Lewensstyl  |  Teks  |  Skryf  |  Wenslysies  |  Nuwe Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.