Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Slaapbroekie- oomblik in die hospitaal
Petro Hansen

Waar ek by die hospitaalbed van ’n familielid sit, hoor ek hoe dit stil word. Die nagskof het oorgeneem.

’n Hospitaal is mos die lewe se stopstraat, een waaroor ’n mens nie eens per ongeluk kan ry nie. Jy kan jou nie eens soos ’n moedswillige kind uit die greep van ’n diagnose losruk en ’n ander koers vat nie.

Agter ’n toegetrekte gordyn oorkant my drom kinders om ’n geliefde pa se siekbed saam en ek luister na die geselsies. “Jinne, Pa, jy het my laat skrik. Ek het gekom so gou ek kan. Is Pa oukei?”

“Ja, my kind, ek was gistermiddag van Checkers af op pad terug na die ouetehuis toe ek die ding in my bors voel aankom.

“Ek weet al hoe dit voel, die duiseligheid, sweet, jou asem wat so begint te jaag. Ek draai toe links by die robot hier by die hospitaal in en laat my toe sommer opneem. Dankie dat jy so gou gekom het. Pa sal met jou regmaak vir die petrolgeldjies.”

In die ander hoek van die kamer lê ’n man wat ’n wit bloemistekaartjie in sy hand hou en kort-kort kyk na die ruiker met biltong en sjokolade op sy bedkassie.

Die volgende môre met besoektyd kom die pa wat sy hartaanval afgeweer het van agter die gordyn te voorskyn.

“Ek moet meer hospitaal toe kom,” sê hy vir my en wys met sy vinger na die ruiker.

“Kyk wat het my personeel vir my gestuur. Hulle waardeer my after all.”

Agter die toe gordyn is die pa besig om vir sy seun instruksies te gee: “Jong, Pa gaan vir jou moet vra om vir my ’n paar goedjies in my kamer by die ouetehuis te gaan haal. Verskoon tog net hoe dit lyk, jou pa het nog nie kans gehad om sy bed op te maak voor ek Checkers toe gery het nie.

“Maak my klerekas oop. Op die rakkie regs bo is ’n wit hemp en ’n blou kortbroek. Bring asseblief my sandale onder in die kas ook saam. My tandeborsel, tandepasta en seep is in die stort. In ’n grys houtboksie bo my bed is kougom, bring dit ook saam.

“Op die rak langs my bed is my Bybel. My kind, tel dit asseblief versigtig op dat jou ma se foto voorin nie uitval nie. En o ja, ek het ’n paar slaapbroeke op die tweede rak, jy kan maar enige een gryp!”

Die volgende môre met besoektyd kom die pa wat sy hartaanval afgeweer het van agter die gordyn te voorskyn. Hy het ’n stywe groen T-hemp met die woorde “I’m Backing the Boks” voorop aan. Langs hom sleep hy ’n staander waaraan sy drup hang saam badkamer toe.

Sy skuifelstap is egter selfversekerd. Hy groet my en die familielid by wie ek sit vriendelik. Met die wegstap merk ek sy spierwit slaapbroekie op.

Een wat ek toe wonder of hy weet hy aanhet, een wat ek wonder of sy seun weet hy vir sy pa ingepak het, want op die slaapbroek kan jy die gedrukte woorde “passion”, “love”, “kisses” en “young gun” tussen die patrone van vet pienk lippe nie miskyk nie.

Meer oor:  Petro Hansen  |  Besoekers  |  Hospitaal  |  Pa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.