Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Só maak jy die deur na die nuwe jaar oop!

Blaai deur koerante en tydskrifte en luister mooi wat mense sê: Dit wemel van Nuwejaarsvoornemens op ’n skaal van vermaaklik banaal tot grote erns.

Wilhelm Jordaan

Dis ’n onstuitbare impuls, ’n jaarlikse ritueel en ieder en elk neem deel – hoog- en laaggeplaastes, glansmense, bedelaars en boemelaars, Louis die Laeveldleeu. Én, natuurlik, Blouwillem, wat wens vir ’n maer lyf en ’n vet beurs. Wat meer kan mens begeer!

Tog wil ’n mens vra wat is nou eintlik nuut aan ’n nuwe jaar? Jy weet by voorbaat menslike onvermoë, sotterny en dwaasheid sal vanjaar, soos die vorige en elke ander jaar, voortduur.

Verhoudings sal tot niet gaan, gesinne sal verbrokkel, geweld teen vroue en kinders sal aanhou, kibbelendes sal bly kibbel, praters sal bly praat en donderjaers sal voortdonner. Dus: Die “selle ou storie” . . .

Ag, wat ’n somberte, oompie suurpruim! Om so, sommer net so, ’n doodsvonnis oor 2019 uit te spreek. Dis mos onbeteuelde sinisme.

Miskien help dit dan om aan ’n nuwe jaar te dink as ’n deur wat vir jou bedoel is en wat jy alleen kan oopmaak, want daar is nie ’n behulpsame deurwagter wat dit gaan doen nie. Dis jóú deur en jóú deurgang na iets nuuts. Soos Karel Schoeman dit verwoord het in sy roman Verkenning: “ . . . stoot die deur oop, beur teen die donker in . . . en begin nuut”.

Nuut begin veronderstel nuut en anders kyk as gewoonlik.

Nuut begin veronderstel nuut en anders kyk as gewoonlik. ’n Nuttige begin is om te kyk hoe ons gebruiklik met die woorde “nuut” en “nuwe” omgaan. Ons beperk eintlik hul betekenisse tot goed wat met geld gekoop word – ’n nuwe huis, kar, klere, duur juwele, opwindende vakansiereise enso(bestedend)voort. Alles goed wat jou bly maak; welvaart waarmee jy kan spog.

Maar daar is ook ander betekenisse wat opwindende moontlikhede inhou as jy dit verbeeldingryk verken en toepas – soos pas ontdek, pas gemaak en nie vantevore gesien nie.

Natuurlik verloop alles wat nuut gemaak word nie sonder meer goed of na jou wense nie.

Byvoorbeeld, wat in my verhouding met my gesin, vriende en kollegas kan deur my houding en optrede omskep word tot iets wat nie vantevore gesien is nie? Dalk wag daar verrassings oor wat ontdek en nuut gemaak kan word – gebede, ’n kerk, skool, gesindheid, taak, werk, ’n ander manier van dink en doen.

Natuurlik verloop alles wat nuut gemaak word nie sonder meer goed of na jou wense nie. Maar vrese dat dit wat jy (op)nuut probeer, skeef sal loop en daarom liewer gelaat moet word, is ’n seker manier om 2019 passief in en uit te gaan. Dít is ’n gevaarlike passiwiteit wat jou laat sê: “Ek wonder wat my vanjaar gaan tref” pleks van te vra: “Wat kan ék vanjaar doen om dinge om en in my nuut te maak?”

Só ’n nuutskeppende gesindheid ontmasker vlugtige nuwejaarsplannetjies en -wensies vir wat hulle werklik is: Voorbodes vir ontnugtering en verydeling, vae begeertes sonder daadkrag, foefies om die klugtige nuwejaarspel verby te kry.Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Nuwejaarsvoornemens  |  Nuwe Jaar  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.