“Onthou!” So sê die Here oor en oor in die Bybel aan sy volk. Onthou dit wat vir Hom saakmaak. Onthou die Here se reddingsdade. Laat dit dien as kompas vir die pad vorentoe.
Tog onthou en vergeet ons almal willekeurig. Pyn en slegte dinge kry ereplekke in ons gedagtes, maar die Here se seëninge gaan ongeteld en onopgemerk verby. Ons tob jare lank oor seerkry, maar vergeet blitsvinnig die goeie dinge wat met ons gebeur.
Ons kort ’n gesonde geheue. So by so is dit ’n slegte soort geheue wat slegs agteruit kan onthou. In Through the Looking Glass sê die wit koningin juis aan Alice syself het al ’n paar dinge onthou wat sy volgende week gedoen het! Ons onthou reg wanneer ons die armes onthou, soos wat Petrus Paulus vra in Galasiërs 2:10. Ons onthou reg as ons die Here se goedheid onthou en dit vandag onthou. Dan alleen sal ons die Here se goedheid vandag herhaal. En môre ook. – Stephan Joubert