Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Solank mense praat, sal taal bly verander

Lesers se vrae. L. van Wyk vra oor “sibbe”: “Word dié woord erken en wat is die enkelvoud?” J. van Eeden skryf oor “builepes”: “Wat ’n vreemde woord. En hoe vreemd dat die siekte van rotte kom, maar eintlik van vlooie op die rotte en eintlik van bakterieë op die vlooie. Amper soos in die kamer is ’n kas . . .”

Die woord “sibbe” staan al in die 13de eeu opgeteken. In Oudsaksies, Oudhoogduits, Oudfries, Oudengels en Goties verwys dit na iemand se gesamentlike verwante, jou familie. Later kom ’n tweede, skraler betekenis by soos ons dit vandag gebruik: Om taamlik formeel na ’n broer of suster te verwys. “Sib”, meervoud “sibbe”, of “sibbe”, meervoud “sibbes”. Wees net konsekwent.

Die wisselvorme staan albei in die AWS as ekwivalente vir Engels se “sibling(s)”. Tog spring dié ou woord vandag klaarblyklik ongemaklik in die oog.

Gaan kyk maar op sosiale media; onder meer: “Die woord ‘sibbes’ is in Huisgenoot. Is dit nou ’n aanvaarde woord?”; “Dit irriteer my grensloos.”; “Dit mag taalkundig aanvaarbaar wees, maar dis vir my afgryslik.”; “Voel na iets wat by ’n ietermagô hoort.”; “Sommige woorde het ’n slegte smaak, soos medisyne! ‘Sibbe’ proe nie vir my lekker nie.”; en “Sibbe is so ’n lelike woord dat hy maar regtig in die vaktaal kan bly.”

Van waar dié sterk afkeer? “Sib”, “sibbe”. Oor “rib”, “ribbe”, “klip”, “klippe” kraai geen haan nie. Maak onbekend onbemind? Of gril ons vir die sibilantheid?

In ’n groot koerantkorpus van die 1990’s kom “sib(be)” slegs 18 keer voor. In ’n veel kleiner korpus van 2015 tot 2018 reeds 120 keer. “Sibbe” word dus afgestof, opnuut gebruik en nie meer net formeel nie. In vandag se gendersensitiewe samelewing vul dié woord ’n duidelike leemte.

Broers en susters saam is sibbe. Kort en klaar. Sê dit, skryf dit, raak dit gewoond.

Afrikaans het geen sinoniem daarvoor nie. So, los nou maar die fiemies. Of jy ’n sib het of nie.

Broers en susters saam is sibbe. Kort en klaar.

Sê dit, skryf dit, raak dit gewoond.

“Buil”, aan die ander kant, is ewe oud, maar dié het in Afrikaans so te sê verdwyn, want vir “buil”, ’n “opswelling van die huid”, het ons “bult” en “knop”, “knobbel” en “knoets”.

In Ou en Middelnederlands was “buil” onderskeidelik “bula” en “bule”; in Oudengels “byle”; Oudsaksies “bula”; Oudhoogduits “bulla”; Oudnoors “bóla”; en Oudfries “bele”. In Afrikaans ken ons “buil” net nog in “builepes”, volgens die WAT ’n pessiekte “gekenmerk deur boosaardige buile waarmee die liggaam bedek word”. Die WAT bied van “buil” ook ’n tweede betekenis, ’n “werktuig om meel te sif” – “gebuilde meel” – maar wie ken dit nog?

Uit “buil” het “bult” ontwikkel. Later het die /b/-klank ’n /p/ geword: in Nederlands “puilen”; Afrikaans “puil”, “om te swel”. Dié is ook vergete, maar ons gebruik nog “peul”.

Op dié manier verander die vorm en uitspraak van woorde oor tyd heen. Meestal is ons onbewus daarvan. Soms wil ons ons daarteen verset.

Maar vir so lank daar mense is wat praat, duur die proses. Slegs die mens is tot dié wonder in staat. Daarin lê die magie van taal.

  • Luther is ’n mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Sibbe  |  Skryf  |  Taal  |  Afrikaans  |  Praat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.